Friday, 11 August 2006

2 seuns, meisie aan Oos-Rand verkrag

Aug 10 2006 10:34:49:490PM - (SA)

Schalk Mouton

Twee tienerseuns is glo gesodomiseer en ’n 18-jarige meisie dieselfde dag in ’n onverwante voorval aan die Oos-Rand verkrag.

Die meisie, van Springs, is eergister vermoedelik deur een van ’n bende van drie mans by die Murraypark-vakansieoord in Springs verkrag, terwyl die twee seuns albei glo deur ’n man naby die Germiston-stadion in Delville, Germiston, gesodomiseer is.

Volgens supt. Andy Pieke, woordvoerder van die Oos-Rand-polisie, het die meisie en ’n vriend die vakansiedag by die dam in Murraypark deurgebring. Hulle is teen omstreeks 17:45 deur drie mans, waarvan een ’n vuurwapen gehad het, oorval.

“Haar vriend se arms is vasgemaak en hy is in die kattebak van sy kar toegesluit,” het Pieke gesê.

Die meisie is toe na ’n nabye bos geneem, waar een van die mans haar glo verkrag het.

“Ons vermoed die mans het van buite die oord af ingekom, want hulle het ná die voorval na ’n nabygeleë plakkerskamp gevlug,” het Pieke gesê.

Die eienaar van die oord, mnr. John Law, is tans in die buiteland, en die oordbestuurder was nie bewus van die voorval nie.

Die bestuurder wou nie kommentaar lewer nie, aangesien slegs Law volgens haar met die media kan praat.

Volgens Pieke het die twee seuns naby die Germiston-stadion sokker gespeel toe hulle die bal oor ’n heining geskop het.

“Toe hulle die bal gaan haal, is hulle deur drie mans gevang. Een van die mans het hulle met ’n mes gedreig.”

Die mans het die seuns, wat onderskeidelik 12 en 14 jaar oud is, op die grond neergedruk, terwyl een van die mans hulle na bewering gesodomiseer het.

Die mans het glo sowat R120 van die seuns gesteel voordat hulle gevlug het. Niemand is in verband met enige van die voorvalle gearresteer nie.

Die Oos-Rand polisie het ’n identikit van ’n man uitgereik wat op 1 Julie glo ’n 14-jarige seun in Germiston gesodomiseer het.

Volgens Pieke het die man die seun en sy jonger boetie in Webberstraat met ’n mes gedreig en hulle gedwing om saam met hom na ’n rioolpyp te gaan.

“Hier het hy die 14-jarige seun glo gesodomiseer voordat hy met hul selfoon gevlug het.”

Die verdagte is sowat 25 jaar oud met ’n middelmatige bou. Hy het ’n baard gehad en het Zoeloe gepraat.

Hy het ’n wit T-hemp en denimbroek aangehad tydens die voorval.

“Ons ondersoek die moontlikheid dat dié voorval en dié in Germiston (waar die twee seuns glo gesodomiseer is) met mekaar verbind kan word,” het Pieke gesê.

Enigiemand wat met inligting kan help, word versoek om konst. Hilton Minnie van die Oos-Randse kinderbeskermingseenheid by 011 871 5460 of 073 416 8097 te bel.

Source:News24/Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_1981148,00.html

No comments: