Thursday, 3 August 2006

Polisie wys seuns glo weg ná onsedelike aanval

Jul 31 2006 09:31:51:923PM - (SA)

Christel Raubenheimer

Twee tienerseuns wat die naweek glo onsedelik aangerand is deur ’n groep mans, is na bewering by deur die Wonderboompoort-polisie in die Pretoriase Moot weggewys omdat hulle minderjarig is en nie self ’n klag mag indien nie.

Die twee 13-jarige seuns het laat Vrydagaand na ’n kafee in Mayville, sowat 100 m van een van die seuns se huise, gestap om koeldrank te koop toe vier mans hul met messe gedreig en hul na ’n stuk veld geneem het.

Daar is hulle gesodomiseer en van hul kledingstukke beroof voordat die vier mans hulle beveel het om pad te gee, het Jannie*, een van die seuns, se ma vertel.

Die twee het in die donker na die Wonderboompoort-polisiekantoor gestap om die voorval aan te meld.

Hulle is glo aangesê om hul ouers te gaan haal en die volgende dag terug te kom.

“Die polisie het nie eens aangebied om hulle huis toe te vat nie. Mens doen dit mos nie. Die kinders het gedink hulle (die polisie) verteenwoordig hulp,” het die ma gesê.

Nie die kinders of hul ouers mag geïdentifiseer word nie.

Insp. Paul Ramaloko, polisiewoordvoerder, het bewerings dat die kinders weggewys is, ontken. “Hulle is dieselfde dag nog gehelp,” het hy gesê.

Volgens hom is twee klagtes op Vrydag 28 Julie Vrydag en ’n derde op 29 Julie aanhangig gemaak. Ramaloko het gesê klagtes van verkragting, ontvoering en onsedelike aanranding word ondersoek.

Die twee seuns het, nadat hulle by die polisiekantoor was, teruggestap na Jannie se maat se huis waar hulle dié maatjie se ma van die voorval vertel het. Sy het hulle na die Pretoria-Wes-hospitaal geneem. Dié hospitaal het nie die geriewe vir ondersoeke om te bepaal of kinders onsedelik aangerand is nie en hulle is na die Laudium-kliniek. Volgens Jannie se ma kon hulle daar ook nie dadelik ’n ondersoek doen nie, omdat die kinders nie ’n saaknommer gehad het nie.

Jannie se ouers is kort voor 06:00 Saterdagoggend oor hul seun se nagmerrie-ondervinding ingelig. Hulle is saam terug na die polisiekantoor waar hulle ’n klag ingedien het.

Daarna is hul weer na die Laudium-kliniek waar die seuns deeglik ondersoek is.

Hulle het ook antiretrovirale middels en medisyne teen seksueel oordraagbare siektes gekry.

“Ek huil en huil en huil, maar hy hou alles terug. Die ergste was om snags te lê en dink wat deur jou kind se kop gegaan het. Het hy gedink ‘kon my ma-hulle nie hier wees nie?’ ” het Jannie se ma gesê.

Jannie praat nie veel oor die voorval nie. Hy sou gisteraand en weer vandag berading kry.

“Ek wil vergeet. Ek dink vorentoe. Dis verby . . .” het hy gesê.

* Skuilnaam.

Source:News24/Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_1976253,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.