Sunday, 27 August 2006

'SA reënboog het 1 kleur: Bloedrooi'

Aug 25 2006 09:44:11:797PM - (SA)

Christel Raubenheimer

Die reënboogland het net een kleur: dié van bloed.

Dít was die woorde van ’n hartseer mnr. Gert Saaiman wie se vrou, Zelda (49), eergisteraand koelbloedig voor die gesin se huis in Brooklyn, Pretoria, doodgeskiet is.

Weens die kwaai haelstorm wat dele van Pretoria in daardie stadium getref het, het niemand die skote gehoor wat me. Saaiman se lewe geëis het nie.

Die moordenaar het net met haar handsak en selfoon gevlug.

Die egpaar se jongste dogter, Jessica (14), was alleen tuis toe mev. Saaiman omstreeks 19:30 by die huis gekom het. Jessica het wel ’n geskreeu gehoor en haar ouer suster, Bianca (19), gebel.

Dié het net minute vantevore by die huis gery en omgedraai toe sy die oproep kry. Sy kon weens die haelstorm se geraas net die woord “skiet” uitmaak.

Me. Saaiman het aan die huiswerker se deur gehamer en toe op ’n bed inmekaargesak nadat die aanvaller haar verskeie kere in die gesig en nek geskiet het. Die huiswerker het by die kamer uitgevlug en haar saam met Jessica in die huis toegesluit.

“Ek dink my ma wou net die huis beskerm, omdat sy geweet het my sussie is alleen daar binne.

“Sy was nie die soort wat sou baklei nie. Sy sou haar goed gegee het as iemand haar daarvoor gevra het.”

Bianca was minute ná haar suster se oproep tuis en steeds onder die indruk dat Jessica seergekry het.

Sy het besef haar ma het iets oorgekom toe sy haar motor verlate in die oprit sien.

Sy en ’n buurman het na me. Saaiman gaan soek en haar in die huiswerker se kamer gekry. Sy was vermoedelik reeds dood.

Haar broer Gerhardus (17) was ook minute later terug by die huis nadat hy óók kort tevore by die huis gery het.

Mnr. Saaiman was in Mosambiek waar hy sakebelange het.

Bianca het hom eergisteraand per satellietfoon gebel en hy het vanoggend na Suid-Afrika teruggevlieg.

“Ek is nie by my lodges in Mosambiek nie, omdat ek my familie hier kom oppas.

“Hulle (die regering) moet sê wat ek nog moet doen. Meer veiligheid help nie en nou wil hulle nog ons selfverdedigingswapens vat ook,” het mnr. Saaiman gesê.

Die gesin het ’n tyd gelede van Limpopo na Pretoria verhuis, omdat hul gemeen het dit sou veiliger wees.

Insp. Anton Breedt, polisiewoordvoerder, het gesê geen arrestasies is al gemaak nie. - Beeld

Oorsprong: South Africa The Truth
http://southafricathetruth.net/index.php?PHPSESSID=9012338c86be322a0afa1638c12ff301&topic=148.0

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.