Saturday, 9 September 2006

OOS-KAAP: Seun wil kafee nie weer sien waar sy pa dood is

Cheri-Ann James 08/09/2006 11:57:26 PM - (SA)

PORT ELIZABETH. – “My broer wil nie weer sy voete in die winkel sit nie,” het me. Lizanne ­Vermaak gesê.

Sy is die dogter van mnr. Leon Vermaak, wat koelbloedig in sy kafee in Charlo vermoor is.

Volgens haar is haar broer, Leon jr. (20), só erg getraumatiseer dat hy nie kans sien om weer in die winkel te kom nie. Hy het op die toneel aangekom kort nadat sy pa geskiet is.

“Dit gaan aan en af met my ma, Lairezia,” het Lizanne gesê.

Mnr. Leon Vermaak sr., eienaar van die Springfield-minimark in Charlo, is Donderdagoggend ­in die winkel doodgeskiet in ’n gewapende rooftog.

Vier verdagtes het skuins voor 10:00 die winkel ingestap om glo koeldrank te koop.

Terwyl Vermaak die kleingeld uit die kasregister gehaal het, het die rowers ’n vuurwapen op hom gerig. ’n Stoeiery het tussen Vermaak en een van die rowers ontstaan en Vermaak is geskiet.

’n Koeël het hom in die arm getref en ’n tweede sy hart. Hy is op die toneel dood.

Familie en vriende moes ­Vermaak jr. buite die winkel kalmeer toe sy emosies hom oorweldig het.

Die Vermaak-gesin oorweeg dit om die winkel te verkoop. Dit word voorlopig deur ’n vriend van die gesin beheer.

Die polisie het ná die voorval na beeldmateriaal van die sekerheidskameras gekyk op soek na leidrade. Volgens supt. Johann van Greunen, polisiewoordvoerder, is die beeld nie baie duidelik nie.

Groot bosse blomme het gister die ingang na die winkel toegelê.

“Selfs mense wat ek nie eintlik ken nie, het hul meegevoel oorgedra. My pa se dood het baie mense geraak,” het Lizanne gesê.

Province, die papegaai wat na ­Vermaak se gunsteling-rugbyspan, die Westelike Provinsie, genoem is, is ook nie homself sedert die moord plaasgevind het nie.

“Hy het die aand van die moord op my bors geslaap. Ek sal hom na ’n veearts moet neem. Hy tree baie vreemd op,” het Lizanne gesê.

Ál wat die Vermaak-gesin nog aan die gang hou, is stories van die goeie ou dae.

“Ons het baie dae in die kroeg langs die winkel deurgebring, waar ons lekker gekuier en ’n ‘Leon Special’ geniet het,” het Lizanne gesê.

Die begrafnisreëlings sal teen volgende week afgehandel word.

cjames@dieburger.com

Oorsprong: Die Burger
http://www.dieburger.com/Stories/News/Regions/11.0.1101519688.aspx

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.