Saturday, 14 October 2006

Maak die ANC steeds oorlog teen die Afrikaner?

Deur Dan Roodt

Soos ek reeds enkele jare gelede in Rapport geskryf het, is die fameuse skikking van '94 besig om uit te rafel. Die afgelope weke het meer as een meningsvormer kommentaar gelewer op die verslegtende verhouding tussen die ANC en Afrikaners wat deur regstellende aksie, naamsveranderings en veral die etniese geweld wat as "misdaad" bekend staan, veroorsaak word.

Nóg Mbeki, nóg enige kabinetsminister het hom al ooit spesifiek teen plaasaanvalle of ander vorme van geweld teen Afrikaners en blankes uitgespreek. Deesdae word mense goedsmoeds langs die paaie aangeval of daar word sommer in die ry op hulle geskiet, soos iemand nou onlangs op die Praaggeselsforum berig.

Hoe moet hierdie spontane rasse- en etniese geweld geïnterpreteer word en wat is die ANC se houding daarteenoor? Ons weet dat die minister van Veiligheid en Sekuriteit, Charles Ngakula, onlangs in die parlement gesê het "mense wat nie van misdaad hou nie, kan kla tot hulle blou in die gesig is of hulle kan die land verlaat".

Geweld dien die Afro-nasionalistiese saak in die sin dat al hoe meer vreesagtige blankes uit die land verdryf word. Hulle laat bates agter wat uiteindelik in swartes se hande gaan beland. Uit 'n realpolitieke oogpunt is daar geen objektiewe rede waarom die ANC sogenaamde "misdaad" of dan die plunderoorlog wat in Suid-Afrika woed, behoort stop te sit nie.

Selfs na die vrylating van die ANC het Nelson Mandela, Ronnie Kasrils en ander ANC-lede vuis omhoog 'n liedjie gesing waarin hul hulself "daartoe verbind om alle ama-Bhulu (wittes) dood te maak". 'n Video-opname van daardie liedjie is hier te sien. Maar afgesien daarvan, het die interessante vraag by my ontstaan of die ANC, wat op Geloftedag 16 Desember 1961 oorlog teen Suid-Afrika verklaar het, ooit daardie oorlogsverklaring teruggetrek het?

Implisiet is dit teruggetrek toe die ANC begin onderhandel het, maar ons weet dat Mbeki sedertdien telkens gesê het dat "die stryd voortgaan" en dat "die tweede revolusie" nog moet plaasvind.

Von Clausewitz se bekende woorde, dat "oorlog politiek met ander middele" verteenwoordig, is hier ter sake. Oor die afgelope maande - veral in die aanloop na en sedert die 16 Junie-herdenking - is die SAUK (waaroor die ANC beheer uitoefen) besig om intense anti-blanke en veral anti-Afrikanerpropaganda uit te saai. Die verhoogde geweld kan in 'n groot mate aan hierdie propaganda toegeskryf word. Op 'n manier is die ANC besig om "oorlog met ander middele" te bedryf. Sonder propaganda is geen oorlog moontlik nie en sommige vorme van propaganda kom regstreeks of onregstreeks op oorlog neer. In sommige SAUK-programme waar Afrikaners as inherent boos, wreed en rassisties uitgebeeld word, is die ANC besig om die grense van die toelaatbare te toets.

Die ANC se milisie, Umkhonto we Sizwe, het grotendeels die SA Weermag oorgeneem, veral natuurlik die hele topstruktuur. Ook staan die polisiemag direk onder die politieke beheer van die regerende party. Die kommandostelsel is afgetakel omdat 25 000 hoofsaaklik blanke kommandolede dalk 'n toekomstige militêre offensief deur Umkhonto sou kon afweer; ook het hulle 'n rol gespeel om etniese aanvalle (sogenaamde "misdaad") te bekamp. Tans wend die ANC nie regstreeks die veiligheidsmagte teen blankes en Afrikaners aan nie, maar daar is tog groot vyandigheid van "die getransformeerde Umkhonto" teenoor hulle te bespeur.

Die kommerwekkende aspek van die huidige situasie is egter geleë in die etniese propaganda wat die SAUK uitsaai en die verhoogde anti-blanke rassebewussyn wat die ANC doelbewus besig is om te kweek. Dit verklaar die gewapende aanvalle op motoriste, boere, motoriste en huiseienaars wat ons die afgelope weke en maande ervaar en waaroor die pers daagliks berig.

Die vraag kan dus met reg gevra word: is die ANC nog steeds in 'n oorlog teen die ama-Bhulu (blankes) gewikkel en wat op die duur daarop gemik is om "Suid-Afrika vir die Afrikaan" te verower?

Sover my wete strek, het die ANC en sy milisie, Umkhonto we Sizwe, nog nooit die oorlogsverklaring van 16 Desember 1961 teruggetrek nie. Heel moontlik sien hy die diplomatieke oorwinning van 1994 en die kapitulasie van die Nasionale Party as bloot een belangrike slag wat gewen is en soek hy steeds 'n totale oorwinning wat slegs voltrek sal wees as die Afrikaners van hul plase verdryf en, hetsy landuit, hetsy ses voet onder die grond sal wees.

"Nie-rassigheid" verteenwoordig 'n blote sous om die internasionale gemeenskap mee te flous, net soos wat Mugabe se bewind in beginsel insgelyks "nie-rassig" is.

Ook die toenemend arrogante houding van naamsveranderaars dui op 'n verharding in die ANC se houding teenoor blankes. Selfs ons skoothondjiepers in die vorm van Beeld en Rapport is besig om dit raak te sien.

Afrikaners sal hulle moet begin regmaak vir "gebeurlikhede". Tans neem dit die vorm aan van gewapende bendes wat by snelwegafritte op loer lê om ons mense aan te val. Maar in die toekoms mag Umkhonto self ontplooi word om "grondhervorming" teen halsstarrige boere toe te pas of om die wraaksug oor apartheid wat so sorgvuldig deur ANC-propaganda gekweek word teen die oorblywende Afrikaners te laat botvier.

'n Mens sou graag Mandela of Mbeki se kommentaar op hul oorlogsverklaring van bykans 25 jaar gelede wou verneem. Maar moenie duim vashou dat u iets vanuit ANC-geledere daaroor gaan hoor nie...

Oorsprong: PRAAG (Pro-Afrikaanse Aksiegroep)
http://www.praag.org/rubriek297d.htm

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.