Friday, 13 October 2006

Self geskiet 8 jaar ná hy pa se moord sien

Oct 12 2006 07:25:20:130AM - (SA)

Pieter Jordaan

Agt jaar nadat hy as klein kind moes toekyk hoe ro­wers sy pa in hul ouerhuis vermoor het, is ’n 14-jarige Gautengse seun eergisteraand in dieselfde huis deur rowers geskiet.

Michael van Zyl, ’n gr. 8-leerling aan die Allen Glen Hoërskool, is omstreeks 19:15 in die bors geskiet toe hy op die rowers afgekom het waar hulle sy ma, Heather (52), en broer, Marck (25), in hul huis in Constantiakloof, Florida aan die Wes-Rand, oorval het.

Hy is kort daarna in ’n ernstige toestand in die Flora-kliniek opgeneem en teen gisteraand was sy toestand volgens me. Ronélle Baars, hospitaalwoordvoerder, stabiel.

Michael het gister vanuit dié hospitaal met moeite van dié rooftog vertel wat sowat 15 min. geduur het.

“Ek het ons twee honde gaan kos gee en was sowat vyf minute buite die huis toe ek my ma hoor skreeu.

“Toe ek instap, sien ek ’n ou met ’n pistool en hoor ’n klapgeluid. Hulle het my geskiet, en ek het dadelik gedink: ‘Ek is geskiet, ek is dood’.

“Ek wou toe die polisie bel, maar het gesien hoe my ma in die sitkamer met ’n pistool aangehou word,” het Michael gister vertel terwyl verpleegsters van dié kliniek aandagtig gestaan en luister het.

Michael het onder instruksie van die rowers op die vloer by sy ma gaan lê en die rowers het ook vir Marck tot op die grond gedwing.

Hulle het glo toegang tot die huis verkry deur Marck te agtervolg toe hy sy motor in die motorhuis wou parkeer.

Volgens Michael het sy skietwond erg gebloei en moes hy een van die rowers om hulp smeek.

“Hy (die rower) het net gesê dat ons nie moet worrie nie en dat alles gaan regkom. Hulle het dasse gaan haal en ons vasgebind en die huis beroof,” het hy vertel.

Volgens supt. Milica Bezuidenhout, polisiewoordvoerder, is selfone, juweliersware, kontant, skootrekenaars en elektriese toebehore van sowat R30 000 gesteel en het die rowers in ’n ou wit Mercedes- Benz gevlug. Die aanvallers is nog op vrye voete.

Me. Van Zyl was gister te geskok om oor die voorval te praat, maar het bevestig dat haar man, mnr. Francis van Zyl, agt jaar gelede op 42-jarige ouderdom in dieselfde huis doodgeskiet is.

“Michael het onlangs eers oor die dood van sy pa begin kom. Hy het gesien hoe dit gebeur,” het sy gesê.

Volgens Michael het hy oomblikke nadat hy in eergisteraand se voorval geskiet is, besef dis “nie my tyd om te gaan nie”.

“Ek is net dankbaar vir al die liefde en sorg wat ek van familie en vriende gekry het ná die voorval,” het hy gesê.

Die koeël het aan die linkerkant van Michael se borskas ingegaan en sy hart net-net gemis. Die koeël het by sy rug uitgegaan. ’n Klein stukkie van sy long wat beskadig is, moes verwyder word, het Baars gesê.

Oorsprong: Crime Expo South Africa
http://www.crimexposouthafrica.org/node/2984

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.