Sunday, 7 January 2007

My tannie is verkrag

January 02, 2007, 10:52:24 AM

LYDENBURG - ‘n Vrou van Graskop het vir die hoogste vonnis gepleit nadat ‘n 33-jarige man hier skuldig bevind is aan die verkragting van haar 91-jarige moeder. Dit was nie die eerste keer dat haar familie slagoffers geword het van verkragting nie. Haar eie dogter is drie jaar gelede ook deur vier mans verkrag. Me Marie Venter het met wrewel haar gevoelens jeens David Malomane uitgespreek. "Wat het die vark gedink doen hy? Nie eens diere doen dit nie."

Haar ma, tannie Koekie Roodt (92) is nou doof en in ‘n rolstoel gekluister weens die beserings wat sy opgedoen het. Tannie Koekie het op 24 Maart 2005 die elektroniese hek by haar huis in Graskop oopgemaak, onder die indruk dat dit haar kleindogter was. Malomane het aan die agterdeur geklop en deur die sekuriteitshek vir kos gevra omdat hy kwansuis honger was.

"My ma kom uit ’n era wat jy nooit iemand wat kos vra, wegwys nie. Sy het bloot haar Bybelse opdrag uitgevoer - en dit nog met empatie." Toe tannie Koekie die sekuriteitshek oopmaak om die brood te gee, het hy dit uit haar hand geklap en beweer dat hy eerder geld soek. Hy het haar klere uitgetrek en toe hy haar wou verkrag het die klein tingerige vroutjie al haar kragte ingespan om hom uit die pad te skop. Dít het hom woedend gemaak, waarna hy haar wreed aangerand het voordat hy haar verkrag het.

In die proses het hy haar gesig pimpel en pers geslaan. Hy het ook haar neus, ribbes en heup gebreek. Sy het hulpeloos op die vloer gelê terwyl hy in die huis rondgekrap het vir wat hy kon buit. Daarna het hy haar opgetel, op haar bed neergelê en haar ‘n rustige nagrus toegewens. Marie en haar ma het die afgelope 23 jaar saam gewoon en sy het haar met liefde versorg. Sy was egter tydens die voorval self in die hospitaal weens ‘n knievervangings-operasie. Bedags het haar huisbediende haar versorg, terwyl huisvriende saans na haar omgesien het.

Haar ma het egter die dag haar vriendin laat weet dat dit nie nodig is om oor te slaap nie, omdat haar kleindogter vir haar sou kom kuier. In die halfuur wat sy alleen by die huis was, het Malomane haar verkrag. Haar klein-dogter, wat self ‘n verkragting moes verwerk, het haar verwese ouma op haar bed aangetref.

"Die invloed wat die insident op die familie gehad het, is soos ’n klip wat rimpelings op water maak." Voor die verkragting was tannie Koekie ‘n aktiewe lid van die gemeenskap wat gereeld die senior-burgeraskies bygewoon het. Sy was lief om te bak, in die tuin te werk en te gaan stap. Sedert haar verkragting het sy ‘n bang en ernstige persoon geword. Sy kry gereeld nagmerries en angsaanvalle. "My ma herleef die verne-dering feitlik daagliks waartydens sy Malomane se hande op haar lyf voel." Marie moes intussen haar ma in ‘n ouetehuis plaas omdat sy self nie meer na haar kan omsien nie.

Malomane, wat skuldig gepleit het, het nog ‘n onafgehandelde verkragtingsaak teen hom, asook verskeie vorige veroordelings van diefstal en roof. Twee sodomiesake is ook teen hom aanhangig gemaak, maar is deur die klaers teruggetrek. Die saak is uitgestel tot 1 Februarie 2007 vir ‘n Hooggeregs-hofdatum sodat hy ‘n gepaste vonnis opgelê kan word.

Streeklanddros Dries Lambrecht was die voorsittende beampte en Me Mariaan Bronkhorst die staatsaanklaer. - Die Laevelder

Oorsprong:South Africa the truth
http://www.southafricathetruth.net/index.php?PHPSESSID=906f273f0aaf8bbca376be921811864d&topic=317.0

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.