Monday, 5 February 2007

‘My seun is doodgemartel’

GAVIN PRINS

Rustenburg

In ’n halfuur lange marteling het moordenaars die 21-jarige Ruan Ferreira in sy kantoor oorval en hom teen die muur gegooi.

Toe het hulle ’n bottel petrol byna leeg gemaak op hom, ’n vuurhoutjie getrek en hom aan die brand gesteek ...

Môre begrawe sy familie hom, maar die misdadigers is op vrye voet.

Die grusame voorval laat Maandagmiddag in die kantoorgebou van Key Distributors in Rustenburg het die dorp geruk.

“My seun is nie doodgemaak nie, hy is doodgemartel,” sê mnr. Gert Ferreira, ’n koshuisvader in Koster.

Ruan en ’n kollega was besig om die kantoor te sluit toe drie mans ingekom het. Die kollega het later vertel die mans wou geld hê. Toe hulle weier, is hy teen die kop geslaan.

“Elias was bewusteloos en my seun is aangesê om teen die muur te gaan staan.”

Die mans het petrol oor hom uitgegooi – waarskynlik in ’n poging om hom te dwing om vir hulle geld te gee. Steeds het die jong kantoorbestuurder gesê hy het nie geld nie.

Toe trek hulle ’n vuurhoutjie en steek hom aan die brand. Die mans het laat spaander. Ruan het daarin geslaag om uit die gebou te hardloop, Elias het bygekom en omstanders het die polisie ontbied.

“Ek kon nie glo dis my seun wat daar lê toe ek op die toneel aankom nie. Sy skoene was vasgebrand aan sy lyf,” het Ferreira vertel.

Ruan se klere was stukkies poeier, word gesê. ’n Bottel naby die toneel was die enigste leidraad.

Hy is na die Ferncrest-hospitaal geneem en toe later per helikopter na die Milpark-hospitaal in Johannesburg.

Ferreira en sy vrou, Maria, is soontoe. Hy het 90% brandwonde opgedoen en sy kans op oorlewing was skraal. Tog het Ruan opgewek in sy hospitaalbed gesê: “Hallo ma. Hallo pa”.

Die dokters het gesê sy toestand is gestabiliseer, hoewel hul oë iets anders gesê het, sê mnr. Ferreira.

Woensdagoggend is sy seun dood.

Mnr. Johan Colyn, een van die bestuurders by Key Distributors, sê sowat R800 000 se skade is aan die gebou aangerig. “Maar dis niks in vergelyking met die verlies van ’n wonderlike man soos Ruan nie.”

Die maatskappy het aangebied om al die mediese en begrafniskoste te betaal.

Oorsprong: News24
http://www.news24.com/Rapport/Nuus/0,7718,752-795_2064105,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.