Friday, 27 July 2007

Vrou word naby haar huis verkrag, beroof

Die pyn van misdaad. Die senuwees in albei hande van 'n vrou van Dorandia in die noorde van Pretoria is morsaf met 'n mes gesny. Foto: Leon Botha

Jul 11 2007 10:41:57:330PM - (SA)

Virginia Keppler

‘Ek het soveel haat in my. Ek is verbitterd.”

Só het ’n 39-jarige vrou van Dorandia, in die noorde van Pretoria, gesê nadat sy eergisteraand omstreeks 18:30 sowat 40 treë van haar huis af deur ’n gewapende man verkrag, beroof en herhaaldelik met ’n mes gesteek is.

Dié ma van drie kinders van onderskeidelik 21, 19 en 17 jaar oud, het daarna bebloed, met net ’n bra en een skoen aan haar voet in die straat afgehardloop terwyl sy om hulp geskree het.

Mense wat enkele huise van haar huis af woon, het haar gehelp en die polisie en ambulans ontbied. Die vrou het gister uit haar bed in die Pretoriase Akademiese Hospitaal gesê in albei haar hande is ’n senuwee morsaf gesny en haar hande is gebreek.

“Hy (die aanvaller) het my ook in my rug gesteek en só my een long stukkend gesteek. Hy het my ook herhaaldelik in die bors en bene en op my skouer gesteek en gewurg,” het sy hartseer vertel.

Dokters het eergister die senuwees in haar hande en arms geheg en haar wonde skoongemaak. Sy haal moeilik asem weens die besering aan haar long. Die vrou ontvang antiretrovirale behandeling ingeval haar aanvaller MIV/vigs het.

Volgens die vrou was sy op pad na vriende toe sy aangeval is.

“Ek het net gevoel iemand gryp my van agter af. Hy het my gevra vir ’n selfoon, wat ek laat val het toe hy my gegryp het. Ek het gesê ek het nie ’n foon by my nie en toe begin hy my met ’n mes steek en te slaan. Hy het my in die veld oorkant ons huise ingesleep, waar hy dit gedoen het.

“Ek het hom gesmeek om te stop, maar hy het gesê as ek nie ophou skree nie gaan hy my doodmaak.”

Die vrou het gesê ’n ander man het daar verbygeloop en die aanvaller het hom gevra of hy ook ’n “beurt” wil hê, maar die man het gesê nee en weggeloop.

Voordat haar aanvaller weggehardloop het, het hy gesê hy gaan ’n vuurwapen by ’n vriend van hom haal en dan terugkom.

Die vrou het vertel hoe sy verby twee vroue gehardloop het, maar hulle het niks gedoen om haar te help nie.

Die vrou se oudste dogter het gesê die man het met haar ma se selfoon en horlosie gevlug. “Ons het die volgende dag my ma se klere wat hy van haar lyf af geskeur het en haar hangertjie daar gaan optel,” het sy gesê.

Die vrou het gister gevra dat die regering iets daadwerklik teen misdaad moet doen. “Hulle moet die galg terugbring.”

Sy het gesê haar aanvaller het ’n beige broek en swart baadjie aangehad en hy het ’n merk in sy gesig. “Ek het hom ook in die gesig gekrap.”

Sy en haar kinders gaan vir berading sodra sy uit die hospitaal ontslaan word.

“Ek gaan vasbyt en op die Here vertrou. Ek weet dit gaan moeilik wees, maar met die hulp van my kinders sal ek deurkom.”

Insp. Paul Ramaloko, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie ondersoek ’n klag van verkragting en aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Oorsprong: Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2145608,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.