Monday, 24 September 2007

Groot stewels skop vlieënier

Sep 23 2007 09:54:41:360PM - (SA)

Sanri van Wyk

Groot, swart stewels wat die vlieënier se kop skop dat dit agtertoe klap.

Dít is wat mnr. Don de Beer, wat boer naby waar ’n Tiger Moth verlede week tussen voertuie op die R553 (die Grasmere-pad) neergestort het, beweer hy kort ná die ongeluk gesien het.

Beeld het vroeër berig dié 1943-Tiger Moth, ’n eenmotorige tweesitplekvliegtuig, het verlede Dinsdag omstreeks 16:45 naby Eikenhof neergestort.

Mnr. Johan van Vuuren (58) van Randburg, ’n passasier in die vliegtuig, en mnr. Isaac Ximba, die bestuurder van ’n Mercedes-Benz Sprinter-bussie vol veiligheidswagte wat deur die vliegtuig getref is, het in die ongeluk gesterf.

Altesame 23 mense is beseer toe die vliegtuig met die neerstortslag die bussie getref het, waarna die bussie ’n vragmotor getref het en ’n Mercedes-Benz-sedanmotor in hulle vasgejaag het.

Mnr. Glenn Simpson, die vlieënier, was bewusteloos toe nooddienswerkers hom na die hospitaal geneem het.

De Beer sê toe hy die toneel ná die ongeluk nader, het hy gesien hoe twee mans Simpson skop waar hy nog in die wrak lê. Nog twee het staan en skree.

“Ek het gehoor hulle skree vir hom: ‘Sien jy wat het julle wit mense gedoen?’ ”

Die mans het geel hemde, swart broeke en swart stewels aangehad, het De Beer gesê.

“Toe ek by hulle kom, het ek geskree hulle moet stop. Hulle het opgehou, weggeloop en terug na die minibussie gegaan.”

De Beer beweer die mense het tussen die beseerdes gaan lê en toe die nooddienste op die toneel kom, het hulle volgens hom geskree van die pyn en gemaak of hulle beseer is.

Mnr. Frank Masoga, ondersoekbeampte van die Burgerlugvaartowerheid (BLO), sê hy ondersoek die enjin nog.

Hy wag ook op die uitslag van die nadoodse ondersoek en ’n mediese verslag van die vlieënier.

Sers. Sanku Tsunke, polisiewoordvoerder, sê die ondersoek na Simpson se aanranding is nog nie afgehandel nie.

Hy sê die ondersoekbeampte wag nog op die BLO-verslag en ná ontvangs van die verslag sal die dossier na die direkteur van openbare vervolging (DOV) oorgeplaas word om te bepaal of iemand vervolg gaan word, sê Tsunke. – Sanri van Wyk

Oorsprong: Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2189250,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.