Monday, 15 October 2007

Hoë maak moles by top-skool

SONJA CARSTENS

Dr. Pierre Edwards, gesiene hoof van die Afrikaanse Hoër Seunskool, gesels vroeër openhartig met Rapport. Foto: Craig Nieuwenhuizen

Verwante Berigte

Affies-hoof praat eksklusief met Rapport oor hel ná klag van matriekseun

Pretoria

Een van die land se voorste Afrikaanse skole glo hy word deur die onderwysowerhede geteiken nadat ’n senior amptenaar by die skool opgedaag en buite haarself van woede vir die hoof geskreeu het “die skool behoort aan my” en die hoof moet maak soos sy sê.

Me. Jeannette Moema het dr. Pierre Edwards, hoof van die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria, die afgelope week voor leerlinge “ ’n lafaard” en “ ’n leuenaar” genoem. Die byna histeriese Moema het ook op die grond gespoeg, gesê die koffie wat haar aangebied is, is vergiftig en ’n lid van die skool se beheerliggaam uit die pad gestamp.

“Help, help, ek word aangerand!”, het sy in ’n stadium geskreeu, waarna sy die polisie ontbied het.

Moema is ’n waarnemende distriksbestuurder van die Gautengse onderwysdepartement se Tshwane-suid-distrik. Sy het na die skool gegaan nadat die ouers van ’n leerling by haar gaan kla het oor tugstappe wat teen hul seun gedoen is.

Sy het herhaaldelik voor leerlinge gesê sy sal Edwards afdank as hy nie haar opdragte uitvoer nie.

Dit sou insluit dat hy moes toelaat dat Rick Horn (18), wat in ’n tugverhoor skuldig bevind is aan wangedrag nadat hy onder meer ’n onderwyseres seksueel geteister het, aan ’n tradisionele afsluitingsgeleentheid deelneem.

As deel van die seremonie moes hy toegelaat word om oor die skoolsaal se verhoog te stap.

Moema se eis in die teenwoordigheid van Horn se ouers was strydig met die pleitooreenkoms en straf waartoe hulle en hul prokureur vroeër by hul kind se tugverhoor ingestem het nadat oor sy dade getuig is.

Onderwysers en lede van die skool se beheerliggaam is nou nog oorbluf en woedend oor Moema se byna histeriese uitbarsting.

Mnr. Ben Laubscher, regsverteenwoordiger van die skool en ook ’n lid van die beheerliggaam, het aan Rapport gesê die beheerliggaam is “briesend” oor Moema se gedrag.

Volgens Laubscher het hulle uiters betroubare inligting gekry dat Moema vroeër op ’n vergadering met Horn se ouers beloof het om Edwards af te dank.

Volgens Laubscher het Moema die afgelope week ook:

geweier om lede van die beheerliggaam met die hand te groet en Sotho begin praat toe Laubscher hul saak wou stel;

geweier om ’n koppie koffie te aanvaar toe dit vir haar aangebied is en gesê sy is bang sy word vergiftig;

’n lid van die beheerliggaam uit die pad gestamp om in die skoolsaal in te kom. Toe hy haar voorkeer, het Moema vir hom geskreeu sy sal hom afdank.

Hy het geantwoord sy kan hom nie kan afdank nie omdat hy nie ’n onderwyser is nie. Hierop het Moema geskree: “Help, help, ek word aangerand!” en die polisie na die skool ontbied;

op die grond gespoeg terwyl lede van die beheerliggaam besig was om met haar te praat;

die mikrofoon buite die skoolsaal gegryp en vir leerlinge in Engels geskree “dit is my skool”;

só erg op een van die departement se ander amptenare geskree dat die vrou vir haar gesê het “moenie só met my praat nie, ek gaan dit nie daar laat nie”.

Agterna wou Moema by Edwards weet “watter soort Christen is jy as jy nie swart leerlinge in die kerk toelaat nie”.

Sy is toe daarop gewys dat die skool se swart leerlinge en hul ouers, asook Horn, die kerkdiens, wat deel van die plegtigheid vir die matrieks was, bygewoon het.

Sy het die lede van die beheerliggaam “boewe” genoem.

Volgens Laubscher het lede van die beheerliggam besluit om Moema te dagvaar oor haar beledigende aanmerkings.

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) sal Moema ook namens Edwards weens laster dagvaar, ’n grieweprosedure teen haar by die departement instel en haar by die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders (Saro) verkla.

“Intussen word oorweeg om ’n klag van crimen injuria teen Moema by die polisie in te dien,” sê Laubscher.

Die beheerliggaam wil dringend met me. Naledi Pandor, minister van onderwys, en die Gautengse LUR oor die voorval vergader.

Me. Kate Bapela, woordvoerder van die LUR, sê dit is jammer dat die beheerliggaam en die SAOU namens Edwards besluit het om regstappe teen Moema te doen.

“Regstappe is nie nodig nie. Daar is interne prosedures wat gevolg kan word as hulle ongelukkig is oor die gebeure. Uiteindelik moet albei partye steeds saamwerk om die leeringe se belange te bevorder. Die verhouding kan deur bemiddeling herstel word. Daar moet iets wees wat intern gedoen kan word,” sê Bapela.

Oorsporing:News24
http://www.news24.com/Rapport/Nuus/0,,752-795_2197248,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.