Sunday, 28 October 2007

Man in sy huis op hoenderplaas vermoor

Die agterdeur van die plaashuis, wat na die kombuis lei, waar mnr. Pieter Smit (29), 'n hoenderboer, gisteroggend koelbloedig vermoor is buite Polokwane (Pietersburg). Foto: Marietie Louw-Carstens

Oct 26 2007 08:37:59:430PM - (SA)

Marietie Louw-Carstens

Polokwane (Pietersburg). – “Oom, hulle het my pappa doodgeskiet.”

Dít was die woorde van ’n driejarige seuntjie kort nadat sy pa gister in die vroeë oggendure koelbloedig op ’n hoenderplaas buite dié stad in Limpopo doodgeskiet is.

Mnr. Pieter Smit (29), ’n kontrakteur wat op die D. Lund Farms Pty. (Ltd.)-hoenderplaas, sowat 15 km buite die stad, gewerk het, is in sy hart geskiet.

Hy is in die kombuis van sy plaashuis dood. Dié huis is op die Lund-landgoed.

Sy vrou, Natasha (29), is in haar regterbeen geskiet. Sy is sowat twee maande swanger met die egpaar se tweede kind. Die egpaar sou volgende Sondag hul agtste huweliksherdenking gevier het.

Mnr. André du Plessis, hoofbestuurder van Lund, het gisteroggend gesê almal is baie geskok oor wat gebeur het.

“Die seuntjie, Pieter, het vir my gesê: ‘Oom André, hulle het my pappa doodgeskiet’,” het Du Plessis gesê.

“Hy het sy pa aanbid.”

Mnr. Rassie Smit, broer van die oorledene, was gister nog baie geskok en woedend oor wat met sy broer gebeur het. “Hulle het gekom om my broer-hulle dood te maak.” Hy het gister hardop buite die plaashuis gehuil wanneer hy oor sy broer gepraat het.

Smit was gisteroggend omstreeks 04:15 op pad werk toe, toe ’n groep van drie of vier mans hom buite die plaashuis oorval en terug in die huis gedwing het. Hulle het hom tot in die kombuis aan die agterkant van die huis gevat waar hulle hom koelbloedig doodgeskiet het.

Mev. Smit, wat toe in Pieter jr. se kamer was, het op die rowers geskiet toe hulle daarna verby dié kamer gekom het. Sy het van die aanvallers gewond. Koeëlgate en bloedspatsels was gister op die gangmure sigbaar.

Die aanvallers het gevlug.

Toe hulle aan die voorkant van die huis gekom het, het hulle deur die kamervenster, waar mev. Smit en haar seuntjie was, geskiet. Mev. Smit is toe in die been gewond. Pieter jr. het tydens die woeste skietery op sy bed agter ’n kas geskuil.

Mev. Smit het daarna haar swaer gebel en gesê daar is groot moeilikheid op die plaas.

“Hier is bloed, hier is bloed,” het sy aan mnr. Rassie Smit gesê.

Smit het nie geweet wat aangaan nie, maar het dadelik na sy broer se huis gery.

Op die grondpad wat na die huis lei, het hy sy broer se Toyota-bakkie van voor af sien kom.

Hy het egter aangehou ry tot by die plaashuis waar hy sy bebloede broer op die kombuisvloer aangetref het.

“As ek geweet het dit is die aanvallers by wie ek verby gery het . . . ”

Hy het mond-tot-mond asemhaling op sy broer toegepas, maar dié was reeds dood.

Mev. Smit is na die Limpopo-Medi-Clinic geneem waar sy vir die wond aan haar been behandel is.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2210097,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.