Saturday, 27 October 2007

‘Net beroemdes kry hulp ná kapings’

Emile Sonnekus (7), wat gister die tweede motorkaping in sy kort lewe beleef het. Hier sit hy met 'n prentjie van 'n polisiemotor wat hy ná die voorval geteken het. Foto: Deon Sonnekus

Oct 25 2007 08:57:43:570PM - (SA)

Annelene Moses

Hy is maar sewe jaar oud en het al sy tweede motorkaping beleef.

Emile Sonnekus en sy maatjie Luke (ook 7) is saam met Luke se ouers, mnr. en mev. Grant en Helen Murphy, voor sy ouerhuis deur drie gewapende mans aangeval.

Dit was ook die tweede kaping in twee weke voor dié huis in Malvern, aan die Oos-Rand.

Emile moes met sy gesig na onder op die grond lê terwyl die kapers sy horlosie, selfoon en beursie gevat het. Mnr. en mev. Murphy is aangerand.

Mnr. Murphy is met ’n vuurwapen oor die kop geslaan, terwyl mev. Murphy herhaaldelik in die gesig geskop is.

Sedertdien vra Emile die heeltyd sy pa, Deon: “Maak die baddies kinders ook seer?”. Hy is ook skrikkerig vir elke man met ’n pet omdat een van die kapers ’n pet gedra het.

Sonnekus het gesê hy het die blitspatrollie omstreeks 20:00 gebel. Hy moes glo hoor die polisie is besig om na 20 sake wat dié aand ingekom het, te kyk en dat die Cleveland-polisie net een voertuig het. Die polisie van Primrose het egter om 21:35 op die toneel aangekom nadat die Murphys al mediese hulp gaan soek het.

“Ek is regtig ontstig, vies en kwaad. As ’n mens nie rich en famous is soos in die Lucky Dube-saak nie, kan mens nie gehelp word nie. Die persoon aan die ander kant van die telefoon was ook nie seker of dit ’n saak vir die Cleveland- of Primrose-polisie is nie. Hy was ’n absolute pateet.”

Sonnekus het uitgegaan omdat die Murphys die klokkie by die hek gelui het. Hulle wou Emile aflaai nadat hulle die seuntjies geneem het om by Bedford Centre te gaan fliek.

“Ek het gehoor hoe die kapers amper histeries op hulle gil en het in my spore omgedraai om die polisie te gaan bel. Ek het gevrees dat as ek uitgaan, ek die situasie net sal vererger.”

Die rowers het met die Murphys se BMW weggejaag voordat Sonnekus hulle in sy huis gehelp het.

“Daar het ’n hele bloedspoor vanaf die sypaadjie tot by my voordeur gelê.

“Helen moes steke kry en ek dink haar neus is gebreek. Dit was só wreed, hoe skop en slaan jy mense wat al op die grond lê?”

Emile het vier jaar gelede, toe hy net drie jaar oud was, ’n kapingsdrama saam sy broer Simon (nou 14), suster Heleen (nou 11) en hul au pair uit Amsterdam, voor hul hek beleef.

Twee weke gelede is mnr. Sassan Machhadi, ’n familielid, óók voor die hek gekaap.

Machhadi van Kaapstad, het vir ’n rukkie by die Sonnekus-gesin tuisgegaan terwyl hy werk in Johannesburg en Pretoria gedoen het.

“Hulle het hom met ’n pistool oor die kop geslaan en ’n gehuurde VW Polo, twee skootrekenaars en sy beursie gebuit. Ons hele straat is ontstig, hier ry gereeld vreemde motors op en af, op soek na ’n geleentheid om te kaap. Dis anargie wat hier heers.”

Kapt. Richard Zuma, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig. Zuma het gesê die Cleveland-polisiekantoor het drie voertuie nauurs beskikbaar, waarvan een vir bystand-doeleindes gehou word.

Source:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2209459,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.