Sunday, 14 October 2007

Polisie stel glo nie belang in inligting oor gru-moord

Sep 11 2007

’n Man van Kilnerpark, Pretoria, wat sê hy het inligting oor die moord op Charlene du Preez (16) van Arcadia, beweer die polisie weier die afgelope paar dae om sy verklaring af te neem.

Charlene het op 16 Augustus vermis geraak nadat sy saam met vriende gaan uiteet het. Haar verbrande en verminkte halfnaak lyk is op 17 Augustus langs die Koedoespoort-treinspoor gevind.

Mnr. Andrew van Staden (69) het Vrydagoggend met Beeld onder sy arm na die Silverton-polisiestasie geloop om ’n verklaring wat dalk kan help om die moordenaars op te spoor, af te lê. Hy wou met die stasiebevelvoerder praat.

“Nadat ek langer as tien minute gewag het, het ek my kontakbesonderhede neergeskryf en gevra dat iemand my moet bel.”

Volgens Van Staden het ’n polisieman hom Vrydagmiddag 14:00 gebel, maar hy kon hom nie mooi hoor nie en het gesê hy sal terugbel.”

Van Staden is later na die Skerpioene se kantore in Silverton, maar hulle het hom na die Silverton-polisie terugverwys. Gister het hy Beeld moedeloos gebel en gesê hy weet nie meer watter kant toe nie.

’n Ontstelde me. Estelle Botha, Charlene se ma, het gesê sy kan nie glo die polisie het nog nie Van Staden se inligting opgevolg nie. “Dalk kan dit help om die mense wat my kind so lelik vermoor het, op te spoor.”

Kapt. Lucas Sithole, polisiewoordvoerder, het gesê hy sal ondersoek instel.

Oorsprong: Onbekend

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.