Monday, 26 November 2007

Afrikaner ‘ontman’ en ‘aanbid sportgod’

Mnr. Eugene Terre'Blanche, oudleier van die AWB, en Steve Hofmeyr groet mekaar in die Skilpadsaal in Pretoria waar 1 500 mense 'n massavolksaamtrek en verootmoedigingsdiens bygewoon het.
Nov 25 2007 10:55:20:383PM - (SA)

Alet Rademeyer

Hy het die Trekliedjie gesing, mnr. Eugene Terre’Blanche, oudleier van die AWB, se hand geskud, ’n paar handtekeninge uitgedeel X en hom toe uit die voete gemaak.

Teen gistermiddag laat het die sanger Steve Hofmeyr hom nog nie uitgelaat oor wat hy dink van die massa- volksaamtrek en verootmoedigingsdiens wat eergister in die Skilpadsaal by die Tshwane Event Centre in Pretoria gehou is nie.

Sowat 1 500 mense het die saamtrek bygewoon wat deur die Brandwag van die Christen Boervolk gehou is.

Terre’Blanche, mnre. Elias Olivier, oudambassadeur, Willie Marais, leier van die HNP, dr. Bobby Ellis en verskeie predikante het opgetree.

Olivier het gesê die rede vir die byeenkoms is omdat die Afrikaner diep in die nood is. “Ons is polities ontman. Ons het geen inspraak of gesag meer nie en is op die kantlyn geskuif. Swart ekonomiese bemagtiging, regstellende aksie en grondhervorming dra ook by tot die swak situasie waarin ons ons tans bevind.

“Ons Afrikaner-kultuur en taal word stelselmatig verdruk en ons kinders is uitgelewer aan goddelose uitkomsgerigte onderwys.

“Ook ons kerke staan in ’n gees van transformasie waar godsdiens vervlak het en Sabbatsontheiliging aan die orde van die dag is. En sport het ’n afgod onder die Afrikaners geword.”

Volgens Olivier is die Afrikaner in die moeilikheid omdat hy ver van God is en vergeet het van die beloftes wat hy aan God gemaak het.

Hy het gesê sedert die nuwe regering in 1994 aan bevind gekom het, het 400 000 mense gewelddadig gesterf.

Terre’Blanche het in sy toespraak gesê Afrikaners is nie indringers in Afrika nie.

Hy het gesê aannames dat Afrikaners grond by mense afgevat het, is “ ’n leuen wat dag ná dag in ons kele afgedruk word”.

Volgens hom is die “kaart en transport-aktes van die honderdduisende hektaar grond wat die boere in die land gekoop het, nog te kry en dit is daarmee wat hulle na die hoogste hof in Den Haag en die Verenigde Nasies moet gaan”.

“Ons praat nie oorlog nie, maar ons wil ons deel van die land hê. Dit is tyd dat die Boerevolk se saak oorsee geneem word,” het hy gesê.

Hy het ’n beroep op mense gedoen wat die saamtrek bygewoon het, om betrokke te raak by die SMS-reddingstelsel van die Brandwag om hulself te beveilig en misdaad te bekamp.

“Ons mag nie vermoor word nie. Ons het ’n plig om mekaar op te pas en mekaar lief te hê. Ons sal moet besluit of ons gaan betrokke raak.”

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2227426,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.