Thursday, 15 November 2007

Bejaarde slaan sy kneukels voos voor hy vermoor word

Nov 14 2007 10:49:37:833PM - (SA)

Hilda Fourie

Mnr. Sonnie Sonnekus (89) se dogter, Mignonette Scherman, het hom elke oggend om 08:00 vanuit Oos-Londen gebel.

Eergisteroggend was dít die laaste bekende stem wat dié oud-offisier by die voormalige Suid-Afrikaanse kriminele buro (SAKB) gehoor het.

Kort ná die oproep is Sonnekus in sy huis in Lyttelton Manor, Centurion, deur ’n onbekende aantal verdagtes oorval.

Dié huis is twee strate vanwaar ’n 83-jarige vrou verlede naweek só erg aangerand is dat sy nie kan praat nie.

Sy is steeds in die waakeenheid van die Unitas-hospitaal in Centurion.

Sonnekus se seun, mnr. Louis Sonnekus, het gesê die verdagtes het sy pa se hande en voete vasgebind en sy neus gebreek.

Sonnekus het versmoor weens bloed wat in sy keel was.

“Ek was Sondagmiddag nog baie kwaad vir my pa, want toe ek hier kom, was alles oop en hy het in die televisiekamer gesit en krieket kyk.

“Ek dink hy het gisteroggend (eergisteroggend) die hek en agterdeur vir Alfie, die worshondjie, oopgemaak en toe die telefoon gaan antwoord.

“Toe hy klaar gepraat het, was die mans moontlik klaar in die huis.”

Volgens Sonnekus bly sy pa die afgelope tien jaar, ná sy ma se dood, alleen in die huis.

Die laaste tyd wou hy glo nie meer die huis, waar hy 50 jaar gewoon het, verlaat nie.

“My pa is ons held,” het mnr. Sonnekus gesê.

“Sy kneukels was stukkend. Op sy ouderdom het hy steeds teen die verdagtes baklei. Hy was só gesond, ons het gewonder waaraan hy sou doodgaan. As hy aan natuurlike oorsake doodgegaan het, sou dit in die haak gewees het,” het hy gesê.

Sonnekus laat sy drie kinders, Mignonette, Louis en Neil, nege kleinkinders en twee agterkleinkinders agter.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2221174,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.