Wednesday, 7 November 2007

Bejaarde verkool in plaashuis

Nov 06 2007 10:32:11:553PM - (SA)

Marietie Louw-Carstens

Vaalwater. – ’n Bejaarde boer van dié distrik in Limpopo het in sy huis verkool wat vermoedelik tydens ’n gruwelike plaasaanval aan die brand gesteek is.

Mnr. Machiel de Lange (70) se verkoolde lyk is gisteroggend deur lede van die plaaslike boerevereniging en polisie op sy plaas, Vogelstruisfontein, sowat 30 km van Vaalwater op die Dorset-pad, gekry.

Dit is die tweede plaasaanval in minder as twee weke in Limpopo.

De Lange se uitgebrande Ford Bantam-bakkie is gisteroggend vroeg op die pad tussen Vaalwater en Modimolle (Nylstroom) deur die polisie gekry.

Mnr. Gerhard Pretorius, van Lydenburg in Mpumalanga en De Lange se skoonseun, was gister baie geskok oor die moord.

“Hy is op daardie plaas grootgemaak en hy is daar doodgemaak . . . ” het hy hartseer gesê.

Pretorius het gesê daar is reeds twee keer tevore by sy skoonpa ingebreek.

“Ons het vir hom gesê dit is gevaarlik op die plaas, maar hy wou nie trek nie, dit is ’n familieplaas en hy wou daar bly.”

Otto kon gister nie sê of De Lange doodgebrand het of reeds dood was toe die huis aan die brand gesteek is nie.

’n Lykskouing moet nog gedoen word.

Mnr. Attie Lourens, ’n plaaslike boer, het gesê lede van die boerevereniging het vroeg gisteroggend gehoor De Lange se huis is aan die brand ná plaaswerkers wat omstreeks 06:00 op pad was werk toe, die polisie verwittig het.

Mnr. Andrew Fourie van die New-Belgium-boerevereniging is saam met mnr. Jan van Niekerk na die plaashuis.

Volgens Fourie was daar duidelike tekens van ’n gewelddadige inbraak by die voordeur. “Daar was ook ’n struweling in die sitkamer en banke is omgegooi.”

Hulle het De Lange se verkoolde lyk in sy slaapkamer gekry. Sy lyk het onder ’n hoop dekgras op die grond gelê. Sy kamer had ’n grasdak en van dié gras het op hom geval.

Van buite is daar nie baie brandskade aan die huis nie, maar die hele huis binne was vol rook en roet.

Lourens het gesê De Lange het etlike jare alleen hier met onder meer beeste en skape geboer.

Mnr. Louis Nel, wat De Lange jare lank geken het, het gesê hy was ’n baie stil en rustige mens wat nie maklik kwaad geword het nie. De Lange het in die Vaalwater-distrik groot geword.

Die plaasaanval was die eerste in twee jaar in die Waterberg-gebied.

“Die plaasaanval raak ons almal in die gebied baie erg. Die boere hier is egter baie paraat,” het Fourie gesê.

De Lange se vrou is jare gelede dood. Hy het ’n dogter, mev. Stefanie Pretorius en ’n seun, mnr. Ben de Lange, wat in Witbank woon.

Die polisie se honde-eenheid het gister die gebied vir leidrade gefynkam. Teen druktyd is niemand nog in hegtenis geneem nie.

Mnr. Dries Joubert, president van TLU SA-Noord, het gesê dié wrede en sinnelose moord is kenmerkend van dié tyd van die jaar. Hy het boere gewaarsku om ekstra paraat te wees.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2216234,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.