Thursday, 8 November 2007

Gewond, maar hy bind skurk vas

Nov 07 2007 09:21:51:403PM - (SA)

Marietie Louw-Carstens

L evubu. – ’n Egpaar van ’n plaas in dié gebied in Limpopo is die slagoffers van die tweede plaasaanval in minder as 24 uur in dié provinsie.

Mnr. Callie Erasmus (54) is gisteroggend vroeg tydens ’n woeste struweling met sy aanvaller in die skouer en been gewond.

Sy vrou, Petro (52), het gister aan Beeld gesê sy en haar man het die aanvaller probeer oorrompel, maar haar man is toe geskiet. Dié plaasaanval was die derde in minder as twee weke in Limpopo.

Volgens mev. Erasmus het haar man gisteroggend ná 05:00 teruggekom by hul plaashuis, nadat hy hul vulstasie in die omgewing vir die dag gaan oopsluit het.

“Die een rower het by die outomatiese motorhuisdeur ingesluip. Hy het drie skote geskiet,” het mev. Erasmus gesê.

Tydens die struweling het mnr. Erasmus een skoot gevuur en die aanvaller gewond. “Ek het die man ook met ’n rewolwer oor die kop geslaan. Ek wou nie skiet nie, want ek was bang ek tref my man,” het mev. Erasmus gesê.

Volgens haar het haar man ondanks sy skietwond daarin geslaag om die aanvaller se hande met kabelhegters vas te bind.

Die Beaufort Security-veiligheidsmaatskappy is gebel en mnr. Danie Haasbroek van dié onderneming was eerste op die toneel.

“Ek dink dit was ’n opportunistiese rower wat gedink het hy gaan iets kry. Ons het baie genade gehad dat niks ergers gebeur het nie,” het mev. Erasmus gesê.

Haar man is gister in die Zoutpansberg-private kliniek in Louis Trichardt opgeneem. Hy was gister in ’n stabiele toestand. Die aanvaller is onder polisiebewaking in die Louis Trichardt-gedenkhospitaal opgeneem. Hy is in die hand gewond.

Intussen is ’n 27-jarige man eergister in die Modimolle (Nylstroom)-gebied aangekeer ná die gru-moord op mnr. Machiel de Lange (70), ’n bejaarde boer van die Dorset-gebied naby Vaalwater.

Supt. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder in Limpopo, het gesê die verdagte is ’n familielid van ’n werker op De Lange se plaas. Die polisie het ’n .38-rewolwer, klere van De Lange én geld wat uit die kluis gesteel is, by die verdagte gekry.

Hy word ondervra en sal later vandeesweek in die hof verskyn. Die polisie ondersoek klagtes van moord, brandstigting en opsetlike saakbeskadiging.

Beeld het gister berig oor De Lange wat in sy plaashuis verkool het nadat aanvallers vermoedelik die huis aan die brand gesteek het.

Minder as twee weke voor die moord op De Lange, is mnr. Pieter Smit (29) op die Lunds-hoenderplaas buite Polokwane (Pietersburg) vermoor.

Niemand is nog in hegtenis geneem weens dié moord nie.

Sy broer, Rassie, het ’n beloning R10 000 aangebied vir inligting wat sy broer se moordenaars kan vastrek.

“Die plaasaanvalle is verskriklik erg,” het Smit gesê.

Mnr. Dries Joubert, president van TLU SA-Noord, het gesê plaasaanvallers is sosiale terroriste. “Lafhartige sosiale terroriste wat werkloosheid as verskoning gebruik, terroriseer gemeenskappe en vermoor onskuldiges,” het hy gesê. Dr. Theo de Jager, voorsitter van Agri-SA-Limpopo, het ook sy skok uitgespreek oor die plaasaanvalle.

Volgens hom is plaasaanvalle baie sleg vir die provinsie én die land se ekonomie.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2217000,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.