Wednesday, 14 November 2007

Mesmoord op Duitser: Hy is voorheen ook aangeval

Nov 13 2007 09:43:28:557PM - (SA)

Linda de Beer

Rustenburg. – Die Duitser wat die naweek by sy huis in dié stad met ’n mes doodgesteek is, het verlede Maandag die eerste keer onder mes-aanvallers deurgeloop.

Mnr. Helmut Goëbels (58) se tuinier het hom Sondag dood met drie messteke in die bors in ’n blombedding gekry, het kapt. Elsabé Augoustides, polisiewoordvoerder, gesê. Bloedspatsels op die hek en in die oprit na sy huis het gister getuig van ’n worsteling tussen hom en sy aanvallers. Die hek was met ’n slot gesluit. Dít het Goëbels waarskynlik gekeer om te vlug.

Volgens Augoustides is Goëbels, wat alleen in sy huis op die hoek van Alamein- en Zandstrate gebly het, verlede Maandag in ’n soortgelyke voorval met ’n mes in die kop gesteek. Hy het egter daarin geslaag om hulp te ontbied. Hy was nie ernstig beseer nie.

Daar is geen rekord dat dié voorval by die polisie aangemeld is nie.

Die polisie het die inligting gekry by die veiligheidsmaatskappy wat op die oproep gereageer het.

Goëbels het die maatskappy Saterdagmiddag ook ontbied nadat hy twee verdagtes in sy erf gewaar het. Die verdagtes was egter skoonveld by hul aankoms.

Dit is nie seker wanneer die moord ná dié voorval gepleeg is nie.

Die motief vir die moord is ook nog onbekend. Goëbels het glo soos ’n kluisenaar geleef, met net ’n paar vriende in die omgewing. Hy het in die 1950’s saam met sy ouers na Suid-Afrika gekom. Hulle is intussen oorlede. Hy het glo geen ander familie in die land gehad nie.

Oorsprong: Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2220383,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.