Sunday, 25 November 2007

Miskraam ná beampte-optrede

24/11/2007 17:57 - (SA)

Estelle Ellis en Peet van Aardt

Kaapstad

’n Gesin van Gordonsbaai vat die Kaapse stadsraad hof toe nadat twee metropolisielede me. Jacqueline Kotze (34) glo só hardhandig behandel het dat sy haar ongebore baba kwyt is.

Sy was op 29 Desember verlede jaar met haar twee kinders Miecqe (4) en Yelcqe (2) na ’n winkelsentrum in Somerset-Wes onderweg toe metropolisielede hulle afgetrek en Kotze in hegtenis geneem het.

Kotze, ’n kaptein in die polisie, is ure later vrygelaat.

Twee weke later het sy ’n miskraam gehad.

“My vrou het by ’n verkeerslig gestop en bloot in haar stoel omgedraai om Miecqe se sitplek te laat sak,” vertel ’n hartseer mnr. Pierre Kotze.

Konstt. Timothy Ferus en Mario Batist het agter hulle gery.

Kotze het glo ’n gebaar gemaak om om verskoning te vra omdat sy die verkeer opgehou het en toe aangery.

“Die volgende oomblik sit hulle hul sirene aan en druk haar sommer van die pad af,” sê Kotze.

Hulle wou haar rybewys sien.

“Toe sy haar motor probeer aanskakel om die lugversoring vir haar kinders in die warm motor aan te skakel, het Ferus en Batist haar gegryp, haar arms agter haar rug opgedruk en haar geboei. Hulle het haar toe na hul motor gesleep en haar agterin gegooi.”

“Terwyl hulle met my vrou na die polisiestasie gery het, het een van die polisiebeamptes ’n oproep van ene Karin, glo Ferus se vrou, gekry. Hy sê toe aan sy vrou dat hulle ’n ryk, wit teef met ’n houding gearresteer het.”

Kotze, wat reeds sewentien jaar in die polisiediens is, is toe na die Gordonsbaai-polisiestasie geneem waar sy uiteindelik haar man kon kontak.

Een beampte het agter hulle aangery in haar motor met haar huilende dogter agterin.

Ná vier uur is Kotze eers vrygelaat.

Sy is aangekla van openbare oproerigheid en onbedagsame bestuur.

Kotze het nou ’n siviele geding teen die stadsraad van Kaapstad ingestel.

Die Kotzes se twee kinders moes ook berading kry en volgens Pierre gaan sy vrou nooit weer terug polisie toe nie.

Oorsprong:Rapport
http://www.news24.com/Rapport/Nuus/0,,752-795_2227112,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.