Saturday, 24 November 2007

Oue gekap ‘dat amper niks van hom oorbly’

Nov 22 2007 09:05:56:720PM - (SA)

Naranda Nell

Nelspruit. – ’n 79-jarige man van ’n plaas hier is wreed met ’n panga aangerand toe hy en sy vrou in die vroeë oggendure deur twee inbrekers oorval is.

Mnr. Jan Voster is in ’n bestendige toestand in die Medi-Clinic hier nadat hy van 04:00 tot 07:00 in die teater was sodat slagare wat in die aanval afgekap is, geheg kon word.

Me. Robyn Baard, woordvoerder van dié hospitaal, het gesê mnr. Voster se ander wonde sal geheg word sodra hy genoeg aangesterk het.

“Hy is tans op ventilators in die waakeenheid.”

Volgens mnr. Jakes Strydom, hoofbestuurder van Hi Tech Sekuriteit in Nelspruit, wat op die toneel was, is mnr. Voster só aangerand “dat daar omtrent niks van hom oorgebly het nie”.

Mnr. Kobus Greyvenstein, Voster en sy vrou, Hannetjie (75) se skoonseun, sê die egpaar het omstreeks 01:30 geluide in die huis gehoor.

Mev. Voster het haar man gestuur om te gaan ondersoek instel. “Hannetjie het gedink dis Jan wat terugkom slaapkamer toe, toe sy die vreemde man sien.”

Mnr. Voster is etlike kere met ’n panga in die gesig en in die nek geslaan.

Mev. Voster het slegs ’n paar skraapmerke aan haar arm opgedoen en was gister nog te geskok om met die media te praat.

Greyvenstein sê hy en sy vrou, ook Hannetjie, se nommer is as ’n panieknommer op mev. Voster se telefoon. Toe hulle die noodoproep kry, was hy binne minute daar.

“Ons bly wel 25 km uit die dorp op Alkmaar – aan die ander kant van die stad – maar (ek) was binne sewe minute by hulle. Dit was ’n verskriklike gesig,” het Greyvenstein gesê.

Hy het gesê mev. Voster het vertel dat ’n man die vorige dag by hulle werk gesoek het.

“Ons vermoed dat die twee verdagtes hulle dopgehou het.”

Greyvenstein sê sy skoonma is baie geskok. “Dit lyk of die werklikheid nog moet insink.”

Insp. Dawie Pretorius, woordvoerder van die plaaslike polisie, sê hulle ondersoek die saak, maar dat geen verdagtes nog gearresteer is nie.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2226003,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.