Friday, 9 November 2007

‘Sameswering teen wit boere’

Nov 08 2007 10:06:51:610PM - (SA)

Marietie Louw-Carstens

Polokwane (Pietersburg). – Die drie plaasaanvalle die afgelope twee weke in Limpopo is ’n sameswering om van wit boere in die provinsie ontslae te raak.

Só het mnr. Michael Holford, DA-leier in Limpopo, gister gesê nadat twee boere dood en een beseer is in plaasaanvalle.

Volgens Holford is dit baie erg dat sagte teikens, soos boere, op gruwelike wyses vermoor word, in Limpopo, wat alombekend is as die provinsie van vrede.

Sy uitsprake volg nadat mnr. Piet Smit (29) twee weke gelede op die Lunds-hoenderplaas buite die stad in die hart geskiet is.

Sy swanger vrou, Natasha (29), het teruggeskiet op die aanvallers, maar is ook gewond. Die egpaar se angsbevange driejarige seun, Pieter jr., het agter ’n kas geskuil tydens die skietery.

Vroeër vandeesweek is mnr. Machiel de Lange (70) se verkoolde lyk in sy plaashuis in die Dorset-omgewing, naby Vaalwater, gekry.

’n 26-jarige verdagte, wat familie is van een van De Lange se werkers, is kort ná die moord naby Modimolle (Nylstroom) vasgetrek. Hy is nog in aanhouding. Klere, geld en ’n .38-rewolwer van De Lange is by die verdagte gekry.

Eergister het mnr. Callie Erasmus (54), ’n boer van Levubu, verbete teruggeveg toe ’n gewapende man hom in sy skouer en been in die vroeë oggendure gewond het.

Erasmus het sy aanvaller in die hand geskiet. Hy sal eersdaags in die landdroshof in Louis Trichardt op ’n klag van poging tot moord verskyn.

Holford het ook gesê mnr. Samson Ndou, LUR vir veiligheid in Limpopo, moet bedank indien hy nie iets daadwerklik omtrent misdaad in landelike gebiede kan doen nie.

Volgens hom het elke plaasaanval ’n negatiewe en destabiliserende uitwerking op die omliggende gemeenskappe.

Luidens statistieke van die DA het die aantal kommersiële plaasboere die afgelope tien jaar met 33% afgeneem.

Plaasaanvalle is een van die redes wat boere deesdae laat besluit om hul plase te verkoop.

Holford sê dit het ook ’n invloed op plaaswerkers.

“Sowat vyf jaar gelede is een plaaswerker in diens geneem vir elke 2 ha intensiewe boerdery in sommige dele van die provinsie.

“Dit het nou afgeneem tot een plaaswerker vir elke 10 ha.”

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2217810,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.