Saturday, 17 November 2007

Sy begin lag, toe steek hy haar in arm

Me. Doné Breedt (19), dogter van die hooflanddros in Krugersdorp en 'n prokureurpa, is helder oordag met 'n mes gesteek tydens 'n kapingspoging. Foto: Bongiwe Gumede

Nov 16 2007 10:17:46:600PM - (SA)

Amanda Roestoff

“As ek my hande op dié arrogante barbaar kon lê, sal hy nie by ’n hof uitkom nie! En die beste advokaat sal hom ook nie op borg uitkry nie!”

Só sê ’n prokureurpa en eggenoot van die hooflanddros van Krugersdorp, nadat sy dogter vandeesweek helder oordag tydens ’n mislukte kapingspoging in Noordheuwel met ’n mes in die arm gesteek is.

Me. Doné Breedt (19), dogter van mev. Erina Breedt, hooflanddros en mnr. Deon Breedt, prokureur, se hoofslagaar in haar regterarm is byna morsaf gesny in die aanval. Dít toe sy geweier het om haar motor en selfoon aan ’n rower te gee.

Mnr. Jaco Mulder, VF+-lid in die Gautengse wetgewer en self ’n inwoner van Noordheuwel, sê Doné, wat tans haar eksamen in konferensie- en geleentheidsbestuur aflê, het haar aanvaller dapper teëgesit, toe sy Woensdag by ’n stopteken in Matroosbergstraat stilgehou het.

’n Man wat daar eenkant op die grasperk gesit het, het skielik langs haar oop vensterruit verskyn en gesê sy moet haar motor vir hom gee.

Sy het nee geskree en uit blote verbasing of senuweeagtigheid begin lag. Toe eis die aanvaller haar Nokia 5200-selfoon. Toe sy weer weier, het hy summier ’n knipmes uit sy broeksak geruk en haar regterarm begin steek. Hy kon daarin slaag om dié klein messie diep by haar elmboog in te steek.

“Ek het besef ek lewe en net daar omgedraai huistoe,” sê Doné.

Dié gesin se predikant het ’n “histeriese” Doné na die Bellstraat-hospitaal gehaas. Mev. Breedt was ten tye van die voorval besig met ’n saak en haar man was met ’n voorverhoor-konferensie in die Oos-Rand besig.

Dr. Jaco Jurgens het die snywond met twee steke geheg en haar ’n stewige dosis antibiotika toegedien, want “niemand weet waar daai mes was nie”.

Doné sê die besef dat iets meer ernstig met haar kon gebeur, het nog nie “ingesak nie”, maar dis “sy (haar aanvaller) arrogansie wat my die meeste pla”.

“Elke kind het ’n reg om na die winkel toe te kan stap as sy wil, sonder om aangeval te word, wat nog te sê met ’n motor soontoe te ry,” sê mnr. Breedt.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2222392,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.