Friday, 30 November 2007

UP-professor se man voor haar oë in die hart geskiet

Prof. Margaret Slabbert vertel van haar man, mnr. Gerhard Slabbert, wat reg voor haar by hul huis in Brooklyn, Pretoria, doodgeskiet is. Foto: Theana Calitz

Nov 29 2007 09:15:35:210PM - (SA)

Hilda Fourie

’n Professor van die Universiteit van Pretoria (UP) se man is by hul huis in Nicolsonstraat in Brooklyn, Pretoria, voor haar oë in die hart geskiet.

Mnr. Gerhard Slabbert (53), ’n konsultant-ingenieur, het kort daarna beswyk.

’n 13-jarige meisie is Saterdagaand in dieselfde straat deur gewapende mans in die been geskiet.

Prof. Margaret Slabbert (51), van die UP se visuele kunste-departement, het gistermiddag hard probeer om die trane te keer terwyl sy vertel het van die toneel wat hom eergisteraand omstreeks 22:00 afgespeel het.

Die Slabberts het teruggekom van hul seun af waar hulle sy motor gaan afgee het.

“Toe ons by die oprit van ons pypsteelhuis inry, was ’n man besig om oor die muur te klim,” het prof. Slabbert gesê.

“Ek het bestuur. My man het uit die motor geklim en vir die man gevra wat hy soek. Toe my man hom die tweede keer vra wat hy soek, het ek gesien hoe die man iets uit sy sak haal.

“Dit was ’n vuurwapen.

“Ongelukkig het my man dit te laat besef. Die oomblik toe my man besef het wat gebeur, het hy probeer om terug in die motor te klim.

“Die ou het hom in die hart geskiet,” het sy gesê.

Terwyl mnr. Slabbert op die sitplek langs haar gesit het, het prof. Slabbert agteruit gery en na ’n nabygeleë hospitaal gejaag.

Daar het die dokter vir prof. Slabbert gesê “dis verby”.

“Daar is geen rede hoekom hy my man moes skiet nie,” het Slabbert gesê. “Hy kon net weggehardloop het.

“Gerhard was ’n wonderlike mens. Almal was mal oor hom.

“Al wat ek weet is dat my kinders moet padgee (uit die land) sodra hulle kan,” het sy gesê.

Kapt. Lucas Sithole, polisiewoordvoerder, het dié voorval bevestig. Niks is gesteel nie en niemand is in nog hegtenis geneem nie. ’n Klag van moord word ondersoek.

Behalwe vir sy vrou, laat mnr. Slabbert twee seuns van 20 en 17 jaar oud, en ’n dogter, 21, agter. Die begrafnisreëlings is nog nie gefinaliseer nie.

Volgens Sithole is die 13-jarige meisie Saterdagaand omstreeks 21:00 by haar huis deur twee mans geskiet. “Die mans het weggehardloop toe die meisie begin skree het. Hulle het niks gesteel nie en is nog op vrye voete. ’n Saak van poging tot moord word ondersoek.”

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2230154,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.