Sunday, 25 November 2007

Vrou steek rower in rug

Mnr. George Kriel (45) en me. Cari-Mari Wilsenach (29) van Capital Park, Pretoria. Foto: Leon Botha

Vrou steek rower in rug

Nov 23 2007 11:22:42:403PM - (SA)

Virginia Keppler

’n Gewapende aanvaller het eergister sy Moses teëgekom toe ’n dapper vrou (29) van Capitalpark, Pretoria, hom in ’n geveg met ’n yslike vleismes in die rug gesteek het.

Vinnige dinkwerk deur me. Cari-Mari Wilsenach se vriend, mnr. George Kriel (45), het boonop gesorg dat die aanvaller met die mes in sy rug in hul huis vasgekeer is sodat hulle hulp kon gaan soek.

Kriel en Wilsenach het gister aan Beeld vertel hulle het omstreeks 18:00 op hul huis se stoep in Venterstraat gesit toe die rower hulle oorval het.

“Hy het gevra vir selfone en ons met sy pistool by die huis in gedwing. In die kombuis het ons hom ons selfone en geld gegee,” sê Kriel.

Die rower wou weet waar hul kluis is, maar die paartjie besit nie een nie. Hy het hulle tot in hul slaapkamer gedwing en gesê hulle moet op die bed gaan lê. “Ek het toe geweet hy gaan ons doodskiet en besef ek moet iéts doen,” sê Kriel.

Hy het die hand waarin die rower die pistool gehou het, gegryp en afgedruk grond toe. Hulle het gestoei en twee skote het afgegaan. “Hy het my ses keer met die pistool op my kop gekap.”

Wilsenach het intussen die paniekknoppie in die kamer gedruk en toe lampe, kandelaars en enigiets waarop sy haar hande kom lê, gegryp en die rower daarmee geslaan en gegooi.

Sy het kombuis toe gehardloop waar sy nog ’n paniekknoppie gedruk het toe Kriel en die rower se gestoei tot in die tuin gevorder het. “Ek het ’n vleismes gegryp en probeer om hom daarmee te slaan, maar met die eerste hou vir George raakgeslaan.”

Wilsenach sê nadat sy die rower herhaaldelik met die mes geslaan het, het dit hom nie gestuit nie. “Toe draai ek die mes reg in my hand en druk dit in sy rug. Ek kon net die hef sien uitsteek.”

Die rower het met die mes in sy rug by die huis ingehardloop waarna Kriel die veiligheidshek toegedruk en gesluit het. Hulle het toe na die Capitalpark Plante-kwekery gehardloop vir hulp. Mnre. Eddie Briel, eienaar van die kwekery, en Paul Stander het na die huis gehardloop. “Eddie het sy pistool gehad en ek ’n tuinvurk,” vertel Stander.

“Oor die muur kon ons sien die rower is nog in die huis vasgekeer. Hy het die hek stukkend geslaan. “Hy het sy pistool op Eddie gerig en toe skiet Eddie twee waarskuwingskote in die grond,” sê Stander.

Die verdagte wou oor die heining na ’n ander erf spring, maar dié bure het hom met klippe bestook. Die rower het toe oor ’n ander elektriese heining gespring en straat-af gehardloop. Stander en Briel het hom voor die kwekery aangekeer, vasgebind en sy pistool afgeneem. Kriel se wonde is met verskeie steke by die Pretoria-Wes-hospitaal geheg en hy ontvang ook teen-vigsbehandeling.

Kapt. Lucas Sithole het die voorval bevestig.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2226768,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.