Thursday, 8 November 2007

Vrou sterf meer as maand nadat rower se koeël haar in bors tref

Me. Stienie Botha (61) met van haar kleinkinders, Nicole (3, links) en Dylan (1).

Nov 07 2007 09:21:56:670PM - (SA)

Me. Stienie Botha (61) het gesê as sy uit die hospitaal kom, hou sy op sigarette rook.

Haar lewensmaat, mnr. Ouboet Venter (53), 5 kinders, 22 kleinkinders en 5 agterkleinkinders het gehoop sy kom huis toe, maar eergister het haar liggaam ingegee.

Botha en Venter is einde September in hul hoewehuis in die Hartbeespoortdam-omgewing deur vier gewapende rowers aangeval.

Hulle het die vorige week in die huis ingetrek.

Een van die rowers het ’n pistool gehad terwyl die ander drie onderskeidelik ’n mes, ’n skroewedraaier en ’n lepel gehad het.

Botha is in die bors geskiet.

Haar suster, me. Annatjie Botha, het gister in trane vertel hoe hulle gehoop het Botha kom huis toe.

“Sy was die hele tyd in die waakeenheid van die Montana Private Hospitaal,” het sy gesê.

“Stienie het vir twee dae met ons gepraat. Dis toe dat sy gesê het sy gaan ophou rook as sy uit die hospitaal uitkom.

“Die dokters het probeer om haar aan die lewe te hou, maar die man wat haar geskiet het, het te naby aan haar gestaan.

“Haar long het heeltemal geskeur. Haar liggaam wou ook nie meer die antibiotika hê nie.

“Ons gaan haar baie mis,” het Annatjie Botha gesê.

Botha sal Dinsdagmiddag om 14:00 vanuit die Nuwe Apostoliese Kerk in Langhamstraat in East Lynne begrawe word.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2216997,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.