Tuesday, 25 December 2007

Beloning uitgeloof om rowers te vang

Aug 23 2007 06:17:25:270PM - (SA)

Naranda Nell

Malelane. – ’n Beloning van R50 000 is hier uitgeloof vir inligting wat daartoe kan lei dat ’n rowerbende vasgetrek word.

Die inwoners van dié pragtige dorpie voel al hoe meer bedreig deur die bende gewapende en gewelddadige rowers.

Insp. Eddie Ngobeni, woordvoerder van die plaaslike polisie, sê die beloning sal betaal word aan enigeen wat inligting kan verskaf wat tot die inhegtenisname van hierdie rowers kan lei.

Volgens Ngobeni vind sowat drie gewapende rooftogte ’n maand plaas. Die rowers raak al hoe meer gewelddadig. Twee slagoffers is verlede Sondag in afsonderlike voorvalle geskiet en die polisie vermoed dit is telkens dieselfde aanvallers.

Alwyn van Rooyen is verlede Sondag gewond toe die rowers hom om 22:00 in sy Buffalostraat-huis oorval het. Hy het met die boewe gestoei en ’n skoot het afgegaan wat hom in die been getref het. Die rowers het gevlug voordat die polisie opgedaag het.

Sowat ’n uur later is Marie Rosseau in die voet geskiet toe sy en haar man, Gawie, by hul gastehuis, Villa Langa, oorval is. Die rowers het ’n selfoon gesteel.

Ngobeni sê die jongste voorval het Dinsdag plaasgevind toe drie gewapende rowers op Minty Store, ’n winkel wat lugtyd, selfone en klere verkoop, toegesak het.

“Niemand is in die voorval beseer nie, maar duisende rande se lugtyd is gesteel. Slegs een van die drie rowers het ’n wapen by hom gehad.”

Filmmateriaal van die rowers is op ’n sekuriteitskamera vasgelê en die polisie ondersoek die moontlikheid dat dit dieselfde rowers is.

Oorsprong: Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Mpumalanga/0,,3-2034_2170085,00.html

Verdere inligting: Die swart mans wat Mr. Alwyn van Rooyen in sy huis aangeval het, het hom met 'n byl oor die kop gekap. Mr. van Rooyen het die byl van die aanvaller probeer afneem, en die byl het toe op die grond geval. Mev. van Rooyen het toe met haar rug op die byl gaan le om die aanvallers te verhoed om dit weer in die hande te kry. Mev. van Rooyen se rug was vol snymerke soos sy gestoei het om haarself tussen die byl en die aanvallers te hou. Die aanvallers het toe vir Mr. van Rooyen in sy lies geskiet en die koel is dwarsdeur sy been. Sedert die aanval het die polisie nog nie eers 'n verklaring afgeneem nie. Die van Rooyens oorweeg dit nou ernstig om te emigreer.

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.