Tuesday, 4 December 2007

Bende val 80-jarige boer op plaas aan, roof vuurwapens

Dec 02 2007 09:21:40:513PM - (SA)

Marietie Louw-Carstens

Mookgophong (Naboomspruit). – Nog ’n bejaarde boer in Limpopo is die naweek op sy plaas aangeval en van vuurwapens beroof.

Mnr. Coen Seegers (80) is Saterdoggend op sy plaas, Kalkfontein, in dié distrik deur vier gewapende mans aangeval.

Dié aanval was ’n dag nadat mnr. Barend Jonker (85) Vrydag op sy plaas in die omgewing van Mokopane (Potgietersrus) met ’n byl aangeval is. Hy het ernstige beserings aan sy gesig en kop opgedoen en sterk steeds in die Polokwane- provinsiale hospitaal aan.

Landbou-organisasies in Limpopo is bekommerd oor die vlaag plaasaanvalle sedert einde Oktober.

Me. Marie Helm, streekbestuurder van TLU SA-Noord, het boere aangeraai om hul veiligheidsmaatreëls in die Kerstyd te verskerp.

In die aanval op Seegers is onder meer ’n haelgeweer en ’n jaggeweer gebuit.

Die vier gewapende mans het ook met ’n trommel geld gevlug.

Supt. Mohale Ramatseba, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die vier verdagtes het omstreeks 08:00 glo vir Seegers gesê hulle wil melk koop.

Hy en sy vrou is oorrompel en die aanvallers het hulle vasgebind.

’n Groot polisiesoektog is na die aanvallers begin. Teen druktyd was niemand nog vasgetrek nie.

Intussen verskyn ’n 20-jarige man vandag in die landdroshof in Polokwane (Pietersburg) ná die aanval op Jonker.

Ramatseba het gesê die man is kort ná die aanval op ’n nabygeleë plaas in hegtenis geneem. Hy het glo ’n klein bedrag geld en klere by Jonker gesteel.

Nog ’n vermeende plaasaanvaller (27) verskyn vandag in die Louis-Trichardt-landdroshof weens die aanval op mnr. Callie Erasmus (54) op 7 November op sy plaas in die Levubu-distrik naby Louis Trichardt.

Erasmus is gewond tydens ’n woeste struweling, maar het daarin geslaag om die aanvaller aan te keer en sy hande met kabelhegters vas te bind.

Sedert einde Oktober was daar sewe gewapende plaasaanvalle in Limpopo.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2231579,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.