Monday, 31 December 2007

”Bid vir my pa, hy’s geskiet”

Mnr. Fanie Keyser (47), sy vrou, Annelize, en sy seun, J.C. (13), van Pretoria. Mnr. Keyser is eergisteraand in Marlothpark in die Laeveld doodgeskiet.

Dec 30 2007 09:26:13:200PM - (SA)

Buks Viljoen

Marlothpark. – Vir die tweede keer in ’n maand is dié natuurparadys wat aan die Krugerwildtuin grens, deur ’n moord geruk.

Mnr. Fanie Keyser (47), ’n verteenwoordiger in die farmaseutiese bedryf in Pretoria en deeltydse beesboer, is die tweede vakansieganger wat in Desember hier vermoor is.

“Bid asseblief vir my pa, want hy is geskiet,” het mnr. Keyser se 13-jarige seun, J.C., kort ná die skietery telefonies aan familie gesê.

Die Keysers, van Dunietstraat, Elarduspark, Pretoria, het Donderdag by die vakansiehuis aangekom. Hulle sou gister terugkeer huis toe.

Mnr. Keyser is eergisteraand met ’n AK47-aanvalsgeweer doodgeskiet oomblikke nadat hy en sy gesin van ’n nabygeleë restaurant na hul vakansiehuis teruggekeer het.

Keyser, sy vrou, Annelize (42), en J.C. het by hul aankoms eers voor die huis stilgehou.

Hy was glo baie veiligheidsbewus en het altyd sy .375 Magnum-rewolwer saam met hom gedra.

Terwyl hy mev. Keyser en J.C. in die motor laat wag het, het hy die huis deurgesoek om seker te maak alles is veilig.

Hy het hulle na binne geroep.

Terwyl Keyser glo besig was om die voertuig te sluit, het mev. Keyser twee skote gehoor klap.

Haar man het op die huis se stoep inmekaargesak.

Sy het na die slaapkamer gehardloop en die deur toegedruk terwyl J.C. elders in die huis onder ’n bed gaan wegkruip het.

“Ons soek net geld en sal niks aan jou doen nie,” het een van die aanvallers, wat kakie-klere aangehad het, glo in Afrikaans aan mev. Keyser gesê terwyl sy die deur van haar slaapkamer toegedruk het.

Die rower het die deur probeer oopstoot, die loop van ’n geweer ingedruk en ’n skoot afgevuur. ’n Koeëlpunt, vermoedelik dié van ’n AK47, is later deur lede van die polisie se Onderberg-honde-eenheid in die kamer gevind.

Intussen kon J.C. glo daarin slaag om uit die huis te kom en het hy ’n paniekknoppie, wat steeds om sy gewonde pa se nek gehang het, gedruk.

Die rowers, wat ’n selfoon en mnr. Keyser se rewolwer gesteel het, het op die vlug geslaan.

J.C. het met sy selfoon hulp ontbied.

Mnr. Keyser is na ’n dokter geneem wat daar naby woon, maar hy is kort ná sy aankoms dood verklaar.

Die vermoede bestaan dat hy onder meer deur die hart geskiet is.

Die polisie het twee AK47-koeëldoppies op die toneel opgetel.

’n Gipsafdruk van ’n skoenspoor wat deur die honde-eenheid geneem is, is een van die min leidrade wat die polisie het om die saak op te los.

Keyser boer deeltyds met beeste en skape op ’n plaas naby Christiana in Noordwes.

Mev. Erika du Toit, mnr. Keyser se skoonsuster, het gister gesê die moord is ’n skok vir die familie.

“Ons het vroeër in Beeld gelees van die moord op mnr. Rudi Harris. Baie mense het Fanie-hulle gewaarsku om nie te gaan nie.

“Niemand het ooit verwag dat ons nou skaars drie weke later self deur dié hel sou gaan nie.

“Fanie, die jongste van vier kinders, was ’n besonderse mens en het absoluut vir sy gesin geleef.”

Die huis waar Keyser geskiet is, is skaars 400 m van die vakansiehuis waar Harris, van Robertson in die Wes-Kaap, op 1 Desember doodgeskiet is.

Sewe verdagtes is kort ná Harris se moord deur ’n taakspan van die Mpumalanga-polisie se opsporingseenheid vasgetrek.

Hulle is steeds in aanhouding.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2244933,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.