Sunday, 2 December 2007

Boer met byl aangeval terwyl hy koeie melk

Nov 30 2007 09:42:29:253PM - (SA)

Marietie Louw-Carstens

Mokopane (Potgietersrus). – ’n Bejaarde boer veg om sy lewe in die hospitaal nadat hy met ’n byl aangeval is terwyl hy koeie gemelk het.

Die aanval op mnr. Barend Jonker (85) van die Geyser-omgewing naby Ysterberg is die sesde plaasaanval in net meer as ’n maand in Limpopo. Twee boere is tydens dié aanvalle dood en twee ernstig beseer.

Mnr. Dries Joubert, president van TLU SA-Noord, het gesê dit lyk asof die Kerstyd vir boere in Limpopo “bloedig, gewelddadig en besonder wreedaardig gaan wees”.

Supt. Mohale Ramatseba, provinsiale polisiewoordvoerder in Limpopo, het gesê Jonker is gisteroggend net ná 06:00 op sy plaas Rietvlei aangeval. Sy aanvaller het Jonker verskeie kere oor die kop en in die gesig geslaan.

Volgens ’n paramedikus van Netcare het Jonker baie ernstige wonde in sy gesig opgedoen. Hy is na die Polokwane- provinsiale hospitaal geneem waar hy teen druktyd in ’n kritieke toestand was.

Ramatseba het gesê ’n man is gisteroggend kort ná die aanval vir ondervraging gearresteer. Dit is nog nie duidelik of hy met die aanval verbind kan word nie.

’n Klein hoeveelheid kontant is tydens die plaasaanval gesteel.

Dit is die sesde plaasaanval sedert einde Oktober in Limpopo. Die vlaag aanvalle het op 26 Oktober begin toe mnr. Pieter Smit (29) op die Lunds-hoenderplaas buite Polo­kwane vermoor is. Gewapende mans het hom oorval toe hy vroegoggend op pad werk toe was.

Hy is teruggedwing in die huis en in die hart geskiet. Sy swanger vrou, Natasha (29), is in haar een been gewond. Sy het teruggeskiet op die aanvallers terwyl die egpaar se driejarige seuntjie, Pieter, agter ’n kas in sy kamer geskuil het.

Minder as twee weke later is die verkoolde lyk van mnr. Machiel de Lange (70) in die Dorset-omgewing naby Vaalwater in sy plaashuis gekry. Hy is vroeg die oggend van Dinsdag 6 November oorval en die aanvallers het vermoedelik die huis, met De Lange binne, aan die brand gesteek. ’n Gedeelte van die grasdak het ingeval en op hom geland.

’n Dag later, op 7 November, is ’n boere-egpaar van die Levubu-distrik aangeval. Mnr. Callie Erasmus (54) is tydens ’n woeste struweling gewond. Erasmus het die aanvaller probeer oorrompel. Hy het ’n skoot afgevuur en die aanvaller is gewond. Erasmus het nadat hy gewond is, daarin geslaag om die aanvaller se hande met kabelhegters vas te bind.

Op 21 November is mnr. Flippie de Klerk naby die chroommyn in die Mokopane-gebied se honde vergiftig. Hoewel dit moontlik ’n voorloper tot ’n plaasaanval was, is De Klerk nie aangeval nie. Die volgende dag is mnr. Koos de Bruin in dieselfde gebied deur sewe mans aangeval. Die kluissleutels en sy bakkie is geroof.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2230709,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.