Wednesday, 19 December 2007

‘Ek moet plan maak om land te verlaat’

Mnr. Kenny de Jager van Silverton, Pretoria, praat met Beeld uit sy hospitaalbed in die waakeenheid van 'n Pretoriase hospitaal. Hy is gisteroggend deur gewapende rowers in die maag geskiet. Foto: Herman Verwey

Dec 18 2007 11:35:28:837PM - (SA)

Hilda Fourie

’N Man is gisteroggend in die maag geskiet nadat drie rowers deur ’n oop kombuisvenster toegang tot sy huis in Silverton, Pretoria, gekry het.

Mnr. Kenny de Jager (47) is in ’n stabiele toestand in die waakeenheid van ’n Pretoriase hospitaal.

Drie rowers, van wie een gewapen was, het omstreeks 03:30 die De Jagers in hul huis in Van der Merwerylaan oorval.

“Ons het gaan slaap en toe ons wakker word was hulle klaar in die huis,” het De Jager gesê.

“Hulle het eers in my dogter, Cheney (16), se kamer ingegaan en haar mond toegedruk sodat sy nie kan skree nie.

“Toe ek weer sien, was hulle in my kamer.”

Die rowers het De Jager vir geld gevra. Die De Jagers het eergister sowat R10 000 in koevertjies gesit om gister skuld te gaan betaal.

Hul verlofgeld vir hul vakansie in Lekkerrus in Nylstroom waarheen hulle Dinsdag sou vertrek, is ook eenkant gesit.

Die rowers het die geld en mev. Cindy de Jager (45) se selfoon gevat.

“Daarna moes ek die voordeur vir hulle gaan oopsluit want hulle wou daar uit,” het De Jager verder vertel.

“Die rowers wou ons eers in ’n vertrek indwing.

“Hulle het weer vir geld gevra, maar hulle het klaar alles wat ons gehad het, gevat.

“Daarna het hulle my motorsleutels gevra. Ek het gesê hulle kan nie die sleutels vat nie.

“Toe begin hulle skiet.”

De Jager se seun, Richard (22), was ook in die huis toe die voorval plaasgevind het. Hy het nog ’n dogter, Liezl (20), wat nie in die huis was nie.

“Ek het juis die vorige aand vir my vrou gesê ek is nou op die afdraande pad. Ek bereik die ouderdom van skete en sere,” het De Jager gesê.

“Toe gebeur dít.

“Ek het nie geweet wat om te sê toe hulle in my kamer staan nie. Ek was verstom.

“Ek weet net ek moet plan maak om uit dié land te kom.

“Ek gaan nie my kinders aan sulke goed blootstel nie.”

Kapt. Jan Sepato, woordvoerder van Silverton-polisiekantoor, het gesê drie skote is afgevuur, waarvan een De Jager in die maag getref het.

Volgens Sepato word ’n saak van poging tot moord en poging tot huisroof ondersoek.

Sepato het gevra dat die gemeenskap voorsorgmaatreëls tref en nie enige vensters of deure sal ooplos nie.

Mense met inligting oor die voorval, kan konst. E. Mgidi bel by 0 012 845 4000 of 0 012 845 4011.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2240776,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.