Saturday, 22 December 2007

Grondeis-boer doodgeskiet

Dec 21 2007 09:52:26:140PM - (SA)

Dries Liebenberg

Durban. – Die KwaZulu-Natalse Landbou unie (Kwanalu) het gister te velde getrek teen grondeisers se verontagsaming van boere se regte nadat een van die unie se voormalige uitvoerende lede in ’n vermeende sluipmoord op sy plaas in die Middellande doodgeskiet is.

Mnr. David Greene (74), ’n pionier-beesboer van die plaas Rustenbergspruit naby Estcourt, is eergister om 18:20 in die voorkop geskiet nadat hy sy handvol skape vir die nag in hul kampie naby die huis gaan toemaak het.

Dié plaas is betrokke by ’n grondeis waarin die kommissie vir die herstel op grondregte vir die eerste keer in die provinsie grond gaan onteien nadat daar nie tot ’n vergelyk gekom kon word oor ’n prys nie.

Dit is nie vergesog om te bespiegel dat grondhervormingskwessies dalk die moordenaars ’n verskoning gebied het om dié misdaad te pleeg nie, het mnr. Robin Barnsley, president van Kwanalu, gesê.

Met 12 moorde en 33 aanvalle was 2007 die bloedigste jaar op KwaZulu-Natalse plase sedert 2003, het mnr. Koos Marais van Kwanalu se veiligheidslessenaar gesê.

“Jy kon (aan die spore) sien hoe die moordenaar my pa bekruip het,” het mnr. David Greene jr. gister gesê. “Hy het reguit na my pa geloop en hom van naby in die voorkop geskiet. Een skoot met ’n 9 mm.”

Hy het vertel sy ma, Dorothy (68), was besig om die hoek van die huis besig om die elektriese grassnyer se koord op te rol toe sy harde stemme gehoor het wat oombliklik deur ‘n skoot gevolg is.

Mev. Greene het gesien hoe die moordenaar in die huis verdwyn.

Die familie het later die nag ontdek dat twee selfone en ’n selfoonlaaier geneem is.

Greene jr. het gesê dis duidelik dat sy pa nie in ’n gewone rooftog vermoor is nie, maar dat dit ’n sluipmoord was.

Greene sr. was die eerste om met Boran-beeste uit Ethiopië in Suid-Afrika te teel. Dié vleisbeeste se gewildheid is vinnig aan die toeneem.

Rustenbergspruit is een van verskeie plase wat deel uitmaak van die Gongola-natuurlewereservaat waarvan ’n deel betrokke is in ’n eis om die herstel van grondregte wat in 1999 in die Staatskoerant gepubliseer is.

Boere wat geraak word in dié eis om sowat 18 000 ha is in November in kennis gestel dat die grond onteien gaan word, het Greene jr. gesê.

Me. Mayu Sosibo, provinsiale grondeisekommissaris, het die moord veroordeel en haar verbasing uitgespreek omdat Greene sr. nie een van die leiersfigure in die eis was nie.

Boere word dikwels van wreedhede beskuldig, het Barnsley gesê.

Mense moet volgens hom ook kennis neem dat daar baie gevalle is waar eisers boere dreig, aanrand, hul eiendom beskadig of intimideer.

Kwanalu sal sy konstruktiewe betrokkenheid by grondhervorming voortsit, maar eis dat die owerhede daadwerklik optree oor eisers se verwagtings en ’n skynbare gesindheid van toeëiening, het Barnsley gesê.

Greene jr. het gesê hy is bitter oor sy pa se dood.

“Hy het met niks begin boer – net ‘n motorfiets. Hy het nie eens ’n koei gehad nie.”

Oorsprong: Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2242452,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.