Monday, 31 December 2007

‘Julle is nie wit – so ons sal julle laat leef’

Dec 30 2007 08:46:25:280PM - (SA)

Cobus Claassen

‘Iets drasties sal aan misdaad gedoen moet word. Mense se lewens is deesdae net te goedkoop in hierdie land.”

Dít is die mening van ’n vriend van mnr. Emmanuel Mwambulukutu, hoë kommissaris van Tanzanië, wat in ’n kritieke toestand in die Pretoria-Oos-hospitaal lê nadat hy Vrydagaand in Garsfontein in die ooste van Pretoria erg deur vier rowers aangerand is.

Mwambulukutu (63) en sy gesin sou – ná agt jaar in Suid-Afrika – binnekort na Tanzanië terugkeer.

Die rowers het Vrydag kort ná 22:00 op sowat 25 gaste by ’n vriend van Mwambulukutu, dr. Christopher Mlosy, se huis toegeslaan waar hulle buite om ’n tafel gesit en kuier het.

Mlosy het die geselligheid by sy huis gehou om afskeid te neem van die Mwambulukutu-gesin.

Een van Mwambulukutu se vriende, wat op voorwaarde van anonimiteit met Beeld gepraat het, het gesê hy was geskok toe ’n rower gesê het hulle het gedink hul slagoffers is wit mense. “Die een het gesê: ‘Maar julle is nie (wit mense nie). So moenie worrie nie, ons sal julle nie doodmaak nie.’ ”

Mlosy, ’n ekonoom by die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) wat die afgelope vyf jaar in Suid-Afrika woon, het gister gesê die regering sal moet besef dat sulke voorvalle die land se beeld baie skade berokken.

Volgens Mlosy het die rowers “soos diere” op Mwambulukutu toegesak toe hy vir die rowers gesê het: “God seën julle.”

“Dít was soos ’n sneller en veral een van die rowers was woedend. Hy het gesê: ‘Ons glo nie in God nie, ons glo in Satan.’ ”

Mlosy het gesê die rowers het mekaar toe aangehits “om die honde dood te maak”.

“Ek weet dit is ’n harde ding om te sê, maar die rowers wat ons aangeval het, is nie mense nie. Mense tree nie só op nie.”

Mwambulukutu is met bottels oor die kop geslaan en met stukkende bottels in die kop gesteek. Hy het ernstige kopbeserings opgedoen.

Sy vrou, Lycia, is ook met ’n kopwond in die hospitaal opgeneem, maar is sedertdien ontslaan. Geen van die ander gaste het ernstige beserings nie.

Me. Sunel Barnard, woordvoerder van die Pretoria-Oos-hospitaal, het gesê Mwambulukutu is in ’n kritieke toestand.

Hy het nog nie sedert die aanval sy bewussyn herwin nie.

Die rowers het met Mwambulukutu se Mercedes-Benz-4x4-voertuig en elektroniese huisware weggekom.

Kapt. Dennis Adriao, nasionale polisiewoordvoerder, het gister gesê een van die verdagtes is eergisteroggend vroeg in Mamelodi-Wes aangekeer.

“Die verdagte (25) is gewond en onder polisiebewaking in ’n hospitaal opgeneem. Mwambulukutu se voertuig, drie wapens en talle gesteelde goedere is gevind.” Die ander drie verdagtes is nog soek.

Adriao het gesê die polisie se diplomatieke beskermingseenheid is net verantwoordelik vir veiligheid by ambassades en diplomatieke wonings.

Dr. Gwen Ramokgopa, uitvoerende burgemeester van die Tshwane-metroraad, het Mwambulukutu gistermiddag besoek, maar wou nie met die media praat nie.

Mnr. Ronnie Mamoepa, woordvoerder van die departement van buitelandse sake, het die aanval sterk veroordeel.

Hy wou nie kommentaar lewer op die vraag of diplomate rede het om bekommerd te wees oor hul veiligheid in Suid-Afrika nie.

“Vra die polisie,” het hy gesê.

Adriao het gister gesê misdaad raak almal in Suid-Afrika.

“Of dit nou gewone lede van die publiek of diplomate is. Almal is potensiële slagoffers.”

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2244927,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.