Thursday, 6 December 2007

Nie gewone moord, maar oorlog, sê Pik

01/12/2007 18:53 - (SA)

Marthinus van Vuuren

Johannesburg

Suid-Afrika het nie net te make met misdaad en moordenaars in die “normale” sin van die woord nie, maar eerder met ’n vorm van oorlog, het oudmin. Pik Botha gister gesê nadat sy jare lange vriend mnr. Franz Richter die afgelope week in die Wieg van die Mensdom, wes van Johannesburg, vermoor is.

Richter (80), ’n bekende in natuur- en toerismekringe en eienaar van die Heia Safari Ranch en Aloe Ridge Lodge, is Woensdagoggend in sy wildreservaat doodgeskiet toe hy op pad was om werkers te gaan betaal.

Drie verdagtes, mnre. Johnson Chwire (23), Dumisani Xulu (37) en Gilbert Mosadi (31), het eergister op aanklagte van moord en roof in die Krugersdorpse landdroshof verskyn.

Chwire was uit op borgtog vir ’n ander roofsaak toe Richter vermoor is.

“Suid-Afrika het te doen met ’n aanvalsmag en nie sporadiese moord en doodslag nie,” het Botha gesê.

“Dit gebeur selde dat slegs een persoon die moord pleeg. Dit is gewoonlik vier, of vyf, of ses mense – die aanvalsmag is groot en dit is ’n oorlog. Daar word beplan en besluit waar om toe te slaan.

“Die regering moet ernstig besin of daar nie ’n nasionale noodtoestand verklaar moet word nie. Alle Suid-Afrikaners word geraak.

“Ons sal dit slegs kan stopsit as daar in ’n mate inbreuk gemaak word op basiese regte, soos vryheid van beweging.”

Botha het Richter as ’n wysgeer en filosoof bestempel.

“Hy het geestelike en mate-riële waarde toegevoeg tot sy nuwe vaderland.”

Die Duits gebore Richter se dood het – nes die moord op die Oostenryker Peter Burgstaller aan die KwaZulu-Natalse suidkus – nuushooftrekke in Duitsland gehaal.

Richter se dogter, me. Gabi Burgmer, het gister tydens ’n toerismeveiligheidsvergadering by die Sterkfonteingrot gesê mense bel van oor die hele wêreld om hul medelye te betuig.

Volgens Burgmer, wat die hotel by die Heia Safari Ranch bestuur, het hulle ná die moord op haar pa reeds ’n kansellasie van ’n baie groot internasionale groep ontvang.

“Ek het ’n e-pos oor die kansellasie aan al die toerisme-owerhede gestuur, maar niemand tel die foon op om te sê ‘ek is jammer’ nie,” het sy ontsteld gesê.

Verskeie inwoners van die Wieg van die Mensdom – ’n wêrelderfenisgebied – het op die vergadering gesê hulle is moedeloos oor die vlaag rooftogte en moorde wat maand ná maand in die gebied gepleeg word.

Nog ’n rolspeler in dié gebied se gasvryheidsbedryf, mnr. Jerry Heynes (45), is Dinsdagoggend in ’n rooftog in die Bell-gables Country Restaurant in Muldersdrift in die maag geskiet.

Heynes, wat die aanval oorleef het, is die mede-eienaar van die restaurant.

Op die vergadering het die inwoners gesê drastiese stappe – soos weermagpatrollies – word dringend benodig om orde in die gebied te herstel.

Volgens mnr. Trevor Roberts, eienaar van Conserv Security, was daar die afgelope jaar 32 plaasaanvalle in die gebied. Vier van dié aanvalle was by toeriste-ondernemings.

“Mens voel veiliger in Irak as in dié omgewing,” het een van die mense op die vergadering luidkeels gesê.

mvanvuuren@rapport.co.za

Oorsprong:Rapport
http://www.news24.com/Rapport/Nuus/0,,752-795_2231293,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.