Thursday, 6 December 2007

Rowers hou bejaardes uur lank in huis in Westdene aan

Mnr. Gerrie Gerber (82) en sy vrou, Rose (76), is in hul huis in Westdene deur twee rowers oorval. Foto: Mario van de Wall

Dec 05 2007 08:49:34:633PM - (SA)

Annelene Moses

’n Bejaarde egpaar van Westdene, Johannesburg, wat sedert die 1960’s hier woon, is byna ’n uur lank deur twee gewapende mans aangehou, aangerand en beroof.

Mnr. Gerrie Gerber (82) is Maandagaand met ’n skêr in die been gesteek. Hy én sy vrou, Rose (76), is ook herhaaldelik deur die gesig geslaan en teen die meubels gegooi.

Die rowers, gewapen met ’n mes en skroewedraaier, het kaste oopgeruk op soek na waardevolle items.

“Elke keer as hulle iets gevra het, het hulle my geslaan. Hulle het al my juwele van groot sentimentele waarde gevat. My trouring, my horlosie, juwele wat ek by my ma geërf het én my selfoon,” het mev. Gerber gesê. Die egpaar is al 52 jaar getroud.

“Hulle het aanhou vra ‘waar’s die laptop’. Ek het gesê ons is oud; ons het nie ’n laptop nie!”

Die nagmerrie het begin toe mev. Gerber omstreeks 23:00 wakker geskrik en agtergekom het die ganglig brand.

“Die volgende oomblik het twee mans op ons afgepeil. Ek het vir my man geskree en ons wou die deur toedruk, maar hulle was te vinnig.”

Mev. Gerber wou weet wat hulle soek en het hulle beveel om te loop. Die mans het die kluis in ’n kas gewaar en wou weet waar die sleutel is. Dis aan hulle gegee en hulle het mnr. Gerber se pistool en sowat R3 000 spaargeld uit die kluis gevat.

“Kan ek iets moois van hulle sê? Hulle het nou wel my handsak omgekeer en die geld daarin gevat, maar my kaarte vir die bank, siekefonds, rybewys en identiteitsdokument gelos,” het sy gesê.

Die boewe het ’n klein venstertjie in ’n ander slaapkamer stukkend geslaan en só die huis betree. Mev. Gerber moes eers ’n deur vir die skelms oopsluit voordat hulle die egpaar vasgebind het.

Die bloeiende egpaar is op hul bed vasgemaak en dit is hier dat mnr. Gerber vir sy vrou gesê het om te bid. Vir die “vlot Engelssprekende” rowers het hy in Afrikaans gesê: “Julle kan niks aan ons doen nie; ons behoort aan die Here.”

Toe die rowers eers die pad gevat het, kon hulle hulself loswikkel. In die bedkassie se laai het mev. Gerber haar ma se ou netbalfluitjie gekry. Hulle het by die kamervenster gaan staan en “lawaai gemaak”.

Me. Tahnia Hook, ’n buurvrou, het die blasery gehoor en hul vriend, mnr. Pieter Cilliers, vervaardiger van Kwêla op kykNet, gebel. Hy woon net ’n huis weg van die Gerbers en het Meldene se gewapende-reaksie-eenheid gebel.

Kapt. Bhekizizwe Mavundla, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig. Mense met inligting kan insp. Mario Jones, die ondersoekbeampte, by 072 336 5707 bel.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2233563,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.