Tuesday, 4 December 2007

Rowers sny haar vingers af

Die erg beseerde mev. Hettie Janse van Rensburg. Foto: Pierre Janse van Rensburg

Dec 03 2007 10:18:54:910PM - (SA)

Marietie Louw-Carstens

Mookgopong (Naboomspruit). – Rowers het hier vier van ’n bejaarde vrou se vingers met ’n snoeiskêr afgesny en haar man se lewe hang aan ’n draadjie nadat hy herhaaldelik met ’n panga oor die kop gekap is.

Dié gru-aanval en plundering van die egpaar se huis het sowat agt uur geduur.

Toe mnr. Theuns Janse van Rensburg (72) sy bewussyn verloor, het sy aanvaller(s) hom kaal uitgetrek en op die egpaar se bed neergelê. Een aanvaller het langs hom gaan lê en ure lank TV gekyk.

“Hulle het my pa gekap en vir dood agtergelaat en my stiefma is verwoes,” het ’n geskokte mnr. Tienie Janse van Rensburg, ’n seun van die egpaar, aan Beeld gesê.

Sy pa se valstande is op die vloer in die gang gekry. Een van sy vrou, Hettie, se vingers het ook in die huis gelê, het Janse van Rensburg jr. gesê.

Sy pa het omstreeks 20:00 ’n geluid buite die huis by 7de Straat 74 gehoor.

“My pa het gaan kyk wat aangaan en die aanvaller(s) moes toe by die voordeur ingesluip het.”

Die aanvaller het Janse van Rensburg herhaaldelik met die panga bygedam. Sy vrou het probeer veg, maar vier van haar linkervingers is met ’n snoeiskêr afgeknip. Haar regterarm is ook gebreek.

Sy het bloeiend na die hoofslaapkamer se badkamer gevlug, haarself daar toegesluit en die bloeiende hand met ’n handdoek verbind.

Haar bewustelose man is na die hoofslaapkamer gesleep, kaal uitgetrek en op die bed neergelê. Mev. Janse van Rensburg het deur die sleutelgat gesien hoe sy aanvaller langs hom op die bed lê en TV kyk.

Die aanvaller(s) het omstreeks 04:00 gisteroggend gevlug nadat die huis geplunder is en bankkaarte, geld, ’n TV-stel, ’n DVD-speler en ’n hoëtroustel gebuit is.

Geen van die bure het enigiets gehoor nie. Mnr. Martin Schmidt, wat oorkant die straat woon, het gisteroggend kort voor 07:00 op die gru-toneel afgekom toe hy vir ’n werk-afspraak opdaag. “Hettie het geroep ek moet help, want haar man is dood.”

Hy het sy buurman op sy rug op die bed aangetref. Hy was met ’n laken toegegooi. “Daar was net bloed . . . dit het gelyk of iemand ’n bees geslag het. Hy het tot my verbasing beweeg en dis toe ek sien hy lewe.”

Mev. Janse van Rensburg onthou net een man wat hulle aangeval het, maar die polisie het gisteroggend drie mans wat by mnr. Janse van Rensburg sr. se tuindiensonderneming werk, vir ondervraging in hegtenis geneem.

Mnr. Janse van Rensburg is gisteroggend per helikopter na die Unitas-hospitaal in Centurion geneem. Teen druktyd was hy nog bewusteloos.

Me. Kate Cvitanic, woordvoerder van die hospitaal, sê hy is in ’n ernstige, maar bevredigende toestand.

Mev. Janse van Rensburg is in ’n bevredigende toestand in dieselfde hospitaal.

Mnr. Pierre Janse van Rensburg, nog ’n seun van die egpaar, sê sy stiefma lyk vreeslik en is baie deurmekaar.

“My pa het ’n skedelbreuk waar hy met die panga op die kop gekap is.”

Mnr. Dries Joubert, TLU SA-Noord se president, sê die verskeie aanvalle op bejaarde mense in Limpopo die afgelope tyd is ’n laevlak-oorlogsituasie.

“Elke lid van die gemeenskap sal alles moet doen om hulself te beveilig.”

In ’n ander aanval is ’n vrou gister by haar plaasstalletjie in die Mokopane- (Potgietersrus) gebied aangeval.

Sy het ernstige gesigsbeserings opgedoen. Haar negejarige dogtertjie het met die burgerbandradio hulp ontbied.

Een van die aanvallers is op die toneel in hegtenis geneem en ’n ander tussen Sterkrivier en Limburg. Twee ander het in die berge verdwyn.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2232152,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.