Saturday, 22 December 2007

‘Sterf ek so?’ dink sy met wapen in oog

Mev. Rita Woodall (51) van Vanderbijlpark verduidelik hoe die aanvaller haar met ?n handwapen bestorm het.Foto: Retha Grobbelaar

Dec 21 2007 09:52:31:110PM - (SA)

Terence Steenkamp

“Ek het gedink hy gaan my verkrag. As hy het, sou ek myself geskiet het.”

Só sê mev. Rita Woodall (51) van Vanderbijlpark, suid van Johannesburg, nadat sy en haar man, Alan (58), Maandagoggend op hul 25ste huweliksherdenking wreed in hul huis aangeval is.

Mev. Woodall vertel sy het die deur van hul motorhuis oopgemaak om hul tuinwerker uit te laat.

Sy het opgemerk dat twee mans aan die onderkant van haar huis se oprit gestaan het.

“Die een man het die werker nader geroep en hom aanwysings gevra. Hy wou ’n selfoon in die werker se hand stop, maar hy het geweier om dit te vat en geloop.”

Die man het toe na Woodall aangestap gekom.

“Ek het hom beveel om nie nader te kom nie, maar hy het nie gestop nie. Toe hy ’n handwapen uitruk, het ek begin skree en die motorhuis se deur probeer toemaak, maar hy het onderdeur geglip.”

Die man het Woodall gegryp en aangedring op die sleutels van haar seun, Sean (25), se motor (wat in die erf geparkeer was). Sy het geskree haar seun is in die bad, en dat sy nie die sleutels aan haar het nie.

“Hy het my voor hom gehou, die handwapen in my nek gedruk en na die sydeur van die huis gestap. Dis toe dat ek vir Alan binne die sitkamer sien met sy pistool in sy hand.”

Volgens mnr. Woodall kon hy nie die aanvaller skiet nie omdat hy bang was hy tref sy vrou.

Die aanvaller het toe drie skote na hom gevuur.

“Ek kon sien hy mik vir my bors, maar ek vermoed die glas van die deur het die koeëls weggeskram,” sê hy.

Hy is in die sy en arm getref.

Die man het toe die handwapen in een van mev. Woodall se oë gedruk.

“Ek het gesien hoe sy vinger stywer om die sneller buig. Al wat ek kon dink is: ‘Is dit hoe ek gaan doodgaan?’ Maar gelukkig het die skoot nie afgegaan nie.”

Hy het haar grond toe gegooi, skelwoorde geskree en toe deur die motorhuis weggehardloop.

Mev. Woodall het toe dadelik na haar man omgesien.

“Daar was soveel bloed dat ek daarin gegly het.

“Hy het op sy maag gelê en ek was so bang hy sou doodbloei.

“Gelukkig het Sean toe agtergekom wat aangaan en my gehelp.”

Mev. Woodall sê hulle sal binnekort, sodra mnr. Woodall beter is, ’n verklaring by die polisie aflê.

Tot dan bly die bloedspatsels teen die mure en die plasse bloed op die sitkamermat.

Hulle sou gisteraand, op hul seun se 25ste verjaardag, ook hul huweliksherdenking vier.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2242447,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.