Sunday, 16 December 2007

Vir ‘prinses’ baklei ‘ma’ haar naels af teen kapers

Mee. Elize van Niekerk en Marisia de Kramer.

Marthinus van Vuuren

Krugersdorp

’n Mens los nie jou “kind” in die motor wanneer kapers daarmee wil wegkom nie.

Daarom het me. Marisia de Kramer terugbaklei om haar vriendin se miniatuur-yorkshire terriër, Prinses Tiffany, uit die booswigte se kloue te red.

En die kapers het nie geweet wat hulle tref nie en daarom het die een verbouereerde kaper sy makker per ongeluk doodgeskiet.

De Kramer (49) en mev. Elize van Niekerk (54) – vriendinne van Pretoria – was verlede Donderdag met Prinses Tiffany en Prinses Shirley (De Kramer se yorkie) op pad Magaliesburg toe. Hulle het by die Laurentia-padstal buite Krugersdorp stilgehou.

Van Niekerk, wat in die motor bly wag het, het ’n gewapende man aangehardloop sien kom kort nadat De Kramer weer in die kar ingeklim het.

“Maatjie, ons word gehijack,” was al wat Van Niekerk kon uitkry. Sy het Prinses Tiffany en Prinses Shirley gegryp toe die kaper haar uit die motor probeer pluk.

Intussen het die kaper se makker De Kramer uit die motor geruk terwyl Van Niekerk gespook het om die vreesbevange hondjies by mekaar te hou. Die kaper het sy vuurwapen teen Van Niekerk se kop gedruk en haar beveel om stil te bly.

Toe hy haar uiteindelik uit die motor kry, het albei hondjies uit haar arms geglip: Prinses Tiffany het in die motor teruggespring en Prinses Shirley het tussen die verkeer deur laat spaander.

De Kramer het besef Prinses Tiffany – wat weer tussen die twee booswigte in die motor beland het – moet gered word.

Sy het oor die booswig op die passasiersitplek gespring om Prinses Tiffany onder die bestuurder se bene uit te kry.

Die bestuurder – wat waarskynlik onkant gevang is – het uit die motor gespring en sy vuurwapen op De Kramer gerig.

“Toe ek met die hond regop kom, het ek in die pistool se loop vasgekyk. Ek het die pistool se loop uit die motor gedwing en ’n skoot het geknal. Kort daarna het ek nóg skoot – dié keer dowwer – gehoor.”

Die man aan die passasierskant het skielik ook uit die motor gespring en De Kramer in die proses uitgegooi. De Kramer dink hy was toe reeds gewond.

“Hy het my ’n sekonde aangekyk met so ’n snaakse uitdrukking in sy oë – iets soos ongeloof. Dis asof hy gedink het hoe kan só iets oor ’n hondjie gebeur, ” vertel De Kramer.

Iemand in ’n ander motor het sy toeter gedruk en die kapers het in ’n blou Golf weggejaag.

Dis eers tóé dat De Kramer die bloedspatsels op haar en op Prinses Tiffany sien: “Ek het ál my plastieknaels afbaklei.”

Prinses Shirley is meters verder langs pad deur twee motoriste gevang wat haar aan haar geskokte “ma” terugbesorg het.

Een van die verdagtes, Godfrey Thabo Baloyi (32), het later in ’n hospitaal in Pretoria-Wes aan sy skietwond beswyk.

“Mag God sy siel genadig wees,” het De Kramer gister gesê. Sy én Prinses Tiffany het vir berading gegaan.

Oorsprong:Rapport
http://www.news24.com/Rapport/Nuus/0,,752-795_2239348,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.