Saturday, 22 December 2007

Vredesgebede by begrafnis vir panga-vermoorde

Mnr. Piérre Janse van Rensburg (links) en sy vrou, Suzette, vertroos mekaar terwyl Tienie, sy broer, in die graf van Theuns, hul pa, afkyk. Foto: Nardus Engelbrecht

Dec 21 2007 09:52:11:970PM - (SA)

Marietie Louw-Carstens

Mookgopong (Naboomspruit). – Dit is nie God se wil dat mense in Suid-Afrika grusaam vermink en vermoor word nie.

Dít was gister die boodskap van dr. Hennie Botes van die Hervormde Kerk in dié dorp in Limpopo tydens die begrafnisdiens van die vermoorde mnr. Theuns Janse van Rensburg (72).

“Die moord op Theuns en die foltering wat Hettie moes deurmaak, gaan in teen die grein van God,” het Botes gesê.

Die kerk waaruit Janse van Rensburg begrawe is, is oorkant die polisiekantoor waar Janse van Rensburg se vermeende twee moordenaars aangehou word.

St. Joseflelies en bloedrooi rose het sy kis en die kerk versier. Die begrafnis is gratis behartig deur die begrafnisonderneming Avbob.

Janse van Rensburg is vroeg in Desember wreed in sy huis met ’n panga aangeval. Hy is só erg beseer dat hy sy bewussyn verloor en sy aanvallers gedink het hy is dood.

Hy was twee weke lank in die trauma-waakeenheid van die Unitas-hospitaal in Centurion.

Sy familie het verlede Sondag, op Versoeningsdag, besluit om die apparate wat hom aan die lewe gehou het, af te skakel. Hy was sedert die aanval in ’n koma en het geen gevoel aan die regterkant van sy lyf gehad nie. Sy vrou, Hettie (72), kon nie gister haar man se begrafnis bywoon nie.

Sy is nog in die Unitas-hospitaal in Centurion en is steeds erg getraumatiseerd ná die gru-aanval.

Haar dokters het die familie aangeraai dat sy nie die begrafnis bywoon nie. Vier van haar vingers moes ná die aanval tot by die eerste lit geamputeer word nadat haar aanvallers dit met ’n snoeiskêr afgesny het.

Mev. Heater Moore, ’n skoonsuster van haar, het gesê sy sal na ’n video-opname van die begrafnis kyk.

Mev. Janse van Rensburg het ’n nota na die begrafnis gestuur. “My hart is altyd by hom. Ons tyd saam was te kort, maar ons was baie lief vir mekaar. Ek sal hom altyd mis,” het Botes daaruit voorgelees.

Botes het hom sterk uitgespreek teen geweldsmisdaad in die land en gesê: “God wil nie hê ons moet só leef nie. Dit is vandag weer ’n grimmige dag in die geskiedenis van Suid-Afrika. Hoekom word so baie mense, oud en jonk dag ná dag só wreed vermoor?”

Botes het gesê “magte van barbarisme” is aan die werk in die land.

“Al die geweldsmisdaad dui op ’n wêreld waar wetteloosheid heers.

“Ons bid in die Kerstyd vir vrede in die land en dat die sinnelose bloedvergieting sal ophou.

“Inwoners van Suid-Afrika is weerloos uitgelewer aan moord en doodslag, het hy gesê.

“Theuns se dood is ’n oproep tot bekering. Mense moet hulself bekeer tot die lewende God.”

Janse van Rensburg is in die dorp se begraafplaas in dieselfde graf as sy eerste vrou, Anna, wat in 2001 dood is, begrawe. Sy een seun, Theuns jr., het sy kop in ongeloof geskud toe hy roosblare op sy pa se kis gestrooi het.

Sy dogter, Madelein, het saggies gehuil toe haar pa se kis stadig in die graf afgesak het.

Sy seuns, Tienie en Piérre, was ook erg aangedaan.

“Hy het twee weke lank probeer veg om te lewe, maar hy het die stryd verloor,” het Theuns jr. gesê.

mlouw1@beeld.com

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2242475,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.