Wednesday, 19 December 2007

Vulstasie-eienaar geskiet terwyl hy wag dat bank oopmaak

Dec 18 2007 11:35:30:617PM - (SA)

Liela Magnus (lmagnus@beeld.com)

’n Pretoriase man is gister voor die oë van sy jare lange vriend dood nadat drie rowers op hul bakkie voor ’n bank in Kerkstraat, Pretoria, losgebrand het.

Mnr. Jan Swart (46) is deur ’n AK47 koeël getref en is op die toneel dood.

“Dit voel so onwerklik. Ek kan nie glo ek leef nog nie en weet nie hoe hulle my gemis het nie. Ek voel half skuldig dat ek nog leef,” het mnr. Sarel Blignaut gesê.

Swart is die mede-eienaar van die Total-vulstasie op die hoek van D.F. Malanrylaan en Kerkstraat in Pretoria.

Blignaut bestuur die winkel by die vulstasie. Blignaut het gesê hy en Swart is gisteroggend vroeg bank toe.

“Ons het vroeër as gewoonlik gery omdat Jan 10:00 ’n afspraak gehad het,” het Blignaut gesê.

Swart het ’n reëling met die Absa-tak in Kerkstraat gehad om vir veiligheid agter die bank by die personeelparkering te parkeer.

Die tak is ná die aanval gesluit vir die publiek.

Hulle het in Swart se bakkie gesit en gesels en gewag vir die bank om oop te maak.

“Ek het skielik oor Jan se skouer drie mans na ons aangehardloop sien kom. Hulle het net begin skiet,” het Blignaut gesê.

Die rowers was gewapen met ’n AK47-aanvalsgeweer en twee pistole. Hulle het die twee mans gedwing om die bakkie oop te sluit en die geld gesteel. Blignaut het uit die bakkie geval en het op die grond gelê.

“Ek het gebid en gedink: ‘O hel, dis nou ons tyd.’ Toe ek weer hoor sê Jan ek moet die ambulans bel, want hy is geskiet,” het Blignaut gesê.

Swart het buite die bakkie gestaan en met sy bolyf op die bakkie se sitplek gelê.

Hy is dood nadat die paramedici op die toneel opgedaag het.

Swart se vriendin van meer as twee jaar, me. Astrid Fourie, was gistermiddag nog sigbaar ontsteld.

“Hy was een uit ’n miljoen en hulle is baie skaars,” het sy gesê.

Mnr. Gys Pitzer, Swart se vennoot, het gesê hulle weet nie hoe die skelms geweet het Swart het geld by hom nie.

“Dit kon iemand gewees het wat hulle dopgehou het, maar ’n mens wil nie wilde bewerings maak nie,” het hy gesê.

Kapt. Paul Ramaloko, polisiewoordvoerder, het gesê die rowers is nog op vrye voet.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2240775,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.