Wednesday, 23 January 2008

3 keer verkrag – en weer ’n slagoffer

Jan 22 2008 10:07:07:677PM - (SA)

Marietie Louw-Carstens

Musina (Messina). – Die bejaarde vrou wat verlede jaar hier tydens ’n inbraak wreed in haar huis verkrag is, was wéér ’n misdaadslagoffer.

Inbrekers het Saterdagaand weer by die huis van mev. Ina du Toit (65) en haar man, Hannes (67), ingebreek.

Mnr. Du Toit het drie skote op een geskiet, maar niemand getref nie. “Ek gee die polisie die skuld vir dié inbraak. Hier is elke aand inbrake in die dorp en hulle doen niks,” het ’n ontstoke mnr. Du Toit gesê.

Hy het gesê niemand het die telefoon by die polisiekantoor beantwoord nie. “Een van die bure wat die skote gehoor het, het die polisielede gaan haal.

“Toe hulle hier aankom, sê hulle vir ons die telefone by die stasie werk nie want daar word aangebou.”

Beeld het in September berig oor die gru-verkragting op Du Toit. Sy het daarop aangedring om geïdentifiseer te word omdat sy “wil hê mense moet wakker skrik oor misdaad in die land”.

Sy is drie keer op verskillende plekke in haar huis verkrag en mense landwyd het met skok gereageer.

Die inbrekers het in September die voordeurslot van die egpaar se huis in Bergview met ’n breekyster oopgedwing. Die huis is goed beveilig met veiligheidshekke. Die twee inbrekers het met net R160, ’n selfoon en ’n paar skoene gevlug. Mnr. Du Toit is beseer toe hy herhaaldelik met ’n mes gesteek is.

Niemand is nog weens daardie aanval in hegtenis geneem nie en ook nie weens die naweek s’n nie. Saterdagaand was daar vier inbrekers wat diefwering gebreek het by ’n venster in die sitkamer.

Die een wat ingekom het, het in ’n alarmsensor vasgekyk en deur die venster gevlug. Dit is tóé dat Du Toit drie skote op hom gevuur het.

Du Toit se hy blameer ook die Musina-munisipaliteit omdat straatligte alewig stukkend is. “Die straatlig voor ons huis was stukkend tydens die naweek se inbraak. Dit is gereeld buite werking.

“Ek bly die munisipaliteit bel dat hulle dit kom regmaak, maar niks gebeur nie.”

Mev. Du Toit is opnuut getraumatiseer.

“Ná die verkragting was sy ’n week in die Limpopo MediClinic in Polokwane. Haar hele liggaam het ingegee. Sy is nou nog meer angsbevange,” het haar man gesê.

Kapt. Debra Bob, Musina-polisiewoordvoerder, het gister gesê dit is onsin dat aanbouings die skuld kry vir die onbeantwoorde telefone, maar kon nie sê wat die werklike rede daarvoor was nie.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2256632,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.