Thursday, 3 January 2008

Egpaar byna 2 keer in 4 dae vermoor

Mev. Dagmar Scheepers sit gister en luister na haar man, Robert, wat vertel hoe hulle twee keer in vier dae onder gewapende rooftogte in hul huis in Waterkloofrif deurgeloop het. Foto: Theana Calitz

Jan 02 2008 11:54:50:143PM - (SA)

Cobus Claassen

’n Egpaar van Waterkloofrif in Pretoria het twee gewapende rooftogte in vier dae deur dieselfde bende oorleef nadat ’n vuurwapen tydens albei rooftogte nie wou vuur nie.

Mnr. Robert Scheepers (53) en sy vrou, Dagmar (57), se eerste nagmerrie was op 22 Desember toe vyf gewapende rowers, ondanks ’n alarmstelsel, by hul huis ingebreek het.

Die rowers het die egpaar in hul slaapkamer oorval.

Scheepers sê een van die rowers het hulle beveel om op die vloer op hul mae te gaan lê. “Hy het in gebroke Engels vir my gesê: ‘Now we put you to sleep forever.’

“Hy het die sneller getrek, maar die skoot het nie afgegaan nie. Ek het begin bid en in ’n stadium gesê: ‘Here, jy moet ons nóú help. Laat die alarm asseblief afgaan.’ ”

Scheepers sê die alarm het oomblikke daarna begin loei en die rowers afgeskrik.

Volgens hom was die 10111-nommer buite werking.

“Ons het ’n hele paar keer probeer, maar dit het nie eens gelui nie.”

Die rowers het met mev. Scheepers se selfoon weggekom en die egpaar het die polisie in kennis gestel in die hoop dat die rowers só opgespoor kon word.

“Die rowers het die volgende dag nog die selfoon geantwoord, maar die polisie kon hulle nie vastrek nie. ’n Mens kry die idee jy is heeltemal alleen in dié stryd.”

Twee van die vyf rowers het mev. Scheepers vier dae later in die tuin oorrompel waar sy plante water gegee het.

“Ek het ’n harde gil gehoor en in een van die rowers vasgeloop toe ek uit die huis hardloop. Hy het die sneller begin trek, maar die wapen het weer nie gewerk nie.”

Die rower het mnr. Scheepers met die vuurwapen oor die kop geslaan, maar hy het losgeruk en na sy buurman gehardloop.

Die buurman het die rowers afgeskrik deur skote oor die heining te vuur.

Mnr. Scheepers sê die buurman het onmiddellik 10111 gebel.

“Die vrou wat geantwoord het, kon nie spel nie en my buurman moes Cliffstraat oor en oor spel. Die polisie het later opgedaag en gesê hulle is aanvanklik na ’n Greeffstraat ontbied. Daar is nie so straat in die woonbuurt nie.”

Mnr. Scheepers sê hulle het nie eens die tweede rooftog aangemeld nie. “Waarvoor? Jy mors eintlik net jou tyd.”

Hy sê ’n wag, wat hy ná die tweede rooftog gehuur het, het hom op 29 Desember in kennis gestel dat twee mans wéér daardie oggend toegang tot hul huis probeer kry het.

Die egpaar, wat die afgelope 14 jaar daar woon, sê hulle is te bang om huis toe te gaan en bly sedertdien by hul seun in Faerie Glen.

“Ons sal nie weer daar kan bly nie,” sê mev. Scheepers.

Supt. Eugene Opperman, polisiewoordvoerder, sê dit is moontlik dat die 10111-lyn “van tyd tot tyd weens faktore soos byvoorbeeld donderweer of kabeldiefstal buite werking is. Dit word egter baie gou herstel as dit die geval is.”

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2245736,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.