Thursday, 31 January 2008

‘Ek’s jammer’ – toe klap skoot

Jan 30 2008 10:31:05:593PM - (SA)

Aletta Otto

Witbank. – ’n 25-jarige veiligheidsbestuurder is gister deur een van sy eie werknemers voor sy verloofde in die gesig geskiet.

Mnr. Danie Volschenk (25) het later die aand in die Unitas-hospitaal in Centurion, Pretoria, aan sy wonde beswyk.

Hy is deur een van die veiligheidswagte van Fidelity Springbok Guards by hul plaaslike kantore hier geskiet ná ’n geskil oor die wag se salaris.

Volschenk is die takbestuurder by die Witbank-tak.

Kapt. Eddie Hall, woordvoerder van die Witbank-polisiestasie, het aan Beeld gesê dat Volschenk en die wag gestry het oor wysigings aan die wag se salaris.

“Die volgende oomblik het die wag sy diensvuurwapen uitgehaal en op Danie gerig,” het Hall vertel.

Die twee mans het gestoei en ’n skoot het afgegaan, wat die muur getref het.

Die wag het die oorhand in die stoeiery gekry en wydsbeen oor Volschenk gaan staan en die vuurwapen op hom gerig.

Me. Beulah Bezuidenhout (23), Volschenk se verloofde, het op die wag se rug gespring om hom te keer.

Die wag het Volschenk egter in die gesig, net bo sy regteroog, getref, het Hall gesê.

“Die laaste woorde wat die wag glo geuiter het voordat hy my seun geskiet het, was: ‘Ek is jammer oor wat ek nou doen.’

“Die koeël is reg deur die brein,” het Volschenk se erg getraumatiseerde stiefpa, mnr. Willie Viljoen, gister ná die voorval gesê.

Bezuidenhout het Viljoen net ná die voorval geskakel en hy was vier minute ná die voorval op die toneel.

Volschenk is na die Life Health Cosmos-hospitaal geneem, maar is later na die Unitas-hospitaal in Pretoria oorgeplaas.

“Hy is met sy aankoms daar dood. Ek hoop reg en geregtigheid sal geskied,” het Viljoen bitter gesê.

Volgens Viljoen was sy stiefseun, wat vir hom soos sy eie was, sowat ses jaar in diens van Fidelity Guards.

Die afgelope drie jaar was hy die takbestuurder en het hy sowat 400 wagte bestuur.

“Hy was so ’n liefdevolle, sagmoedige kind,” het Viljoen gesê.

Die veiligheidswag is kort ná die voorval in hegtenis geneem.

Hy verskyn vandag in die hof op aanklag van moord.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2261686,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.