Saturday, 5 January 2008

Gesin drie keer in een nag aangeval

Jan 04 2008 09:47:49:063PM - (SA)

Virginia Keppler

’n Gesin van The Wilds in die ooste van Pretoria het gister sak en pak uit hul huis in ’n veiligheidskompleks getrek nadat gewapende rowers drie keer in ses uur by hulle toegeslaan het.

Mnr. Alex Harms (31) het gisteroggend gesê hy en sy vrou, Marichen (30), en hul twee seuns, Noah (3) en Eli (twee maande), word deur ’n veiligheidswag in hul huis opgepas terwyl hulle reëlings tref om te trek.

Hulle is eergisteraand tussen 22:00 en gisteroggend 04:20 deur vermoedelik twee gewapende rowers geteister en beroof.

Die rowers het om 22:00 die eerste keer toegeslaan, maar die paartjie het hulle gewaar.

“Ons het twee mans buite gesien en toe skreeu my man vir hulle: ‘Ek kan julle sien!’

“Hulle het toe oor ’n baie hoë muur tot in ons bure se erf gespring en weggehardloop,” het mev. Harms gesê.

Hulle het dadelik die hoof van veiligheid in die kompleks gebel.

Hy het ’n wag en ’n hond na die huis gestuur.

“Teen 01:00 die oggend was daar nog nie weer ’n teken van die rowers nie.

“Ons het ons met die kinders en ons twee klein hondjies in die hoofslaapkamer toegesluit en gaan slaap.

“Net nadat ons aan die slaap geraak het, het ons ses skote gehoor,” vertel sy.

By nadere ondersoek het die Harmse die wag se bebloede boerboel reg voor hul voordeur gekry. Hy is in albei agterpote geskiet.

Volgens mev. Harms het die wag sowat ’n kilometer ver na die naaste veiligheidspunt van die kompleks gehardloop om hulp te ontbied.

Mnr. Norman Padoa, bestuurder van The Wilds, sê die wag is in die skouer geskiet en die koeël het een van sy longe deurboor. Hy sterk in ’n plaaslike hospitaal aan.

Sowat 20 polisiemanne het binne tien minute ná die skietery opgedaag.

Nadat die meeste polisiemanne en veiligheidspersoneel vertrek het, het die gesin hulle weer in die hoofslaapkamer gaan toesluit om te gaan slaap.

“Omstreeks 04:20 het ek iets soos ’n sleutel hoor val, maar gedink dis dalk die wind.

“Min het ons besef die rowers het in daardie stadium ’n sy-skuifdeur oopgebreek en ons plasmaskerm-televisie, ’n skootrekenaar, selfone, ’n iPod en ander goed in die kamer reg langs die hoofslaapkamer gesteel voordat hulle gevlug het.

“Dít terwyl die polisie voor die huis wag gestaan het,” sê mev. Harms geskok.

Padoa sê hy wag op ’n verslag oor die voorval voordat hy verdere kommentaar kan lewer.

Kapt. Paul Sithole, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie ondersoek klagte van poging tot moord en opsetlike saakbeskadiging.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2246698,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.