Saturday, 26 January 2008

‘Help! My huishulp probeer my vergif!’

Die wit water in die botteltjies op die foto is dié wat uit die Bungai-gesin van die Oos-Rand se ketel geneem is. Hulle vermoed dat hul huishulp hulle wou vergiftig. Die botteltjie tweede van links is gevul met gewone kraanwater.Foto: Elize Bungay

Jan 25 2008 11:13:24:940PM - (SA)

Gloria Edwards

‘Nooit in ’n miljoen jaar sou ek kon dink my eie bediende wil my vergiftig nie.”

Só het een van twee vroue van Benoni aan die Oos-Rand gesê ná dit aan die lig gekom het dat hul huiswerkers hul gesinne glo met “moetie vergiftig” het.

Mev. Elize Bungay en mev. Cindy Vaughan het albei afsonderlik en sonder dat die een van die ander geweet het, aan Beeld vertel hoe geskok hulle was nadat hulle agtergekom het dat hul huiswerkers hulle glo maande lank al met huishoudelike skoonmaakmiddels en ander onbekende middels probeer vergiftig het. Die Bungay-gesin het reeds ’n saak van poging tot moord aanhangig gemaak, en die Vaughans was reeds met die polisie in verbinding oor die moontlikheid van ’n strafsaak.

’n Polisiebeampte met wie Beeld die Bungay-saak bespreek het, het by ’n kollega van ’n ander soortgelyke saak gehoor.

Hy het die Bungays en die Vaughans later aan mekaar voorgestel nadat Beeld afsonderlik met elk gesels het.

Volgens Bungay het haar huiswerker van Februarie verlede jaar af dié “moetie”, soos sy dit noem, in die familie se tee gegooi. “Ons het agtergekom die tee proe na seep, maar ek het naderhand gedink my skottelgoedwasser was die oorsaak.”

Bungay het in September agtergekom die water in haar ketel is “melkerig” en dat dit na seep ruik. “Ek het toe die water laat toets en die uitslae het gewys dat daar huishoudelike skoonmaakmiddels, waaronder materiaalversagter, in die water was,” het sy gesê.

Die huiswerkers se kaste is deurgesoek en bottels met die middels, asook “oranje korrels” wat in foelie toegedraai was, is daar gevind. Die huiswerker is afgedank.

Volgens Bungay het bloedtoetse, wat op haar man en twee seuns van onderskeidelik 11 en 14 jaar oud, gedoen is, getoon dat die gifstof fosfaat in hul lewer teenwoordig is.

Bungay het verlede Donderdag ’n tradisionele geneser se hulp ingeroep om haar huis te kom “reinig”. Dié persoon het glo ’n botteltjie met ’n houtpoppie met ’n toutjie en ’n stukkie diervel daarom gedraai, in haar tuin gevind.

Die tradisionele geneser het verduidelik dat dít, asook die skoonmaakmiddels, glo gebruik word om mense “erg kwaad aan te doen”. “Hy’t gesê sy wou ons dood hê,” het Bungay gesê.

In Vaughan se geval het sy verlede week uitgevind dat haar huiswerker “moetie in hul tee en kos gegooi” het. Sy beweer dat haar gesin siek geword en gesukkel het om te herstel.

“Ons het almal allergieë en gastro gekry en niks wat die dokters gedoen het, kon ons gesond maak nie,” het Vaughan gesê.

“Mense dink dié goed bestaan nie,” het Vaughan gesê. ’n Tradisionele geneser het haar huis ook reeds besoek om dit te “reinig”.

Volgens konst. Joshua Dladla, woordvoerder van die Benoni-polisie, wag hulle nog op die uitslag van forensiese toetse in die Bungays se saak. “Sodra ons die verslag het, sal verdere ondersoeke gedoen word,” het hy gesê.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2258851,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.