Thursday, 31 January 2008

Hof sien skok-video van moord

Jan 31 2008 07:02:01:957AM - (SA)

Yolandé Hayward

Port Elizabeth. - 'n Doodse stilte het gister oor die hooggeregshof hier neergedaal toe skokkende videomateriaal van 'n geliefde Baai?se minimark-eienaar se laaste oomblikke op 'n televisieskerm gewys is.

Die video, 'n bewysstuk, toon die gewapende rooftog, asook die moord op mnr. Leon Vermaak, eienaar van die Springfield-minimark in Charlo.

Vermaak is op 7 September 2006 in sy winkel doodgeskiet.

Sy vermeende moordenaars - mnre. Andile Gumede (27), Thozamile Lungu (31) en Simphiwe Patrick Joja (24) - het gister weer hul plekke in die beskuldigdebank ingeneem.

Hulle het saam met hul regsverteenwoordigers, die regter, die staatsaanklaer en mense in die openbare galery na die televisie gestaar toe beeldmateriaal van die minimark se sekerheidskameras aan die hof vertoon is.

Op die video sien 'n mens duidelik hoe twee mans saam die winkel binnestap en na die toonbank beweeg. Een van hulle koop 'n item wat soos sigarette lyk.

Vermaak kom sekondes hierna die winkel binnegestap en beweeg agter die toonbank in.

'n Derde man kom binne en stap na die winkel se yskas.

Die eerste en tweede verdagtes stap na die ingang van die winkel, waar 'n ruiling tussen die twee plaasvind. Die eerste man gaan weer na die toonbank.

Die derde verdagte beweeg ook in die rigting van die ingang, waar daar ook 'n verwisseling tussen hom en die tweede man plaasvind. Hy loop ook na die toonbank terwyl die tweede verdagte die winkel verlaat.

Die eerste man ruk 'n vuurwapen uit. Vermaak kyk op terwyl een van sy werkers agter die toonbank induik.

'n Skoot word afgevuur. Vermaak struikel. Hy word nie weer op die video gesien nie.

Die werknemer agter die toonbank strek om by 'n paniekknoppie uit te kom.

Nóg 'n werknemer kom die winkel binne, maar word deur een van die mans na 'n gang agter in die winkel geneem.

Die opname eindig waar die derde verdagte oor die toonbank spring.

Die saak duur voort.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2261862,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.