Saturday, 12 January 2008

Jong kelner in hof ná moord op Franse sjef

Mnr. Thukela Qunta (21). Foto: Dries Liebenberg

Jan 11 2008 10:02:34:350PM - (SA)

Dries Liebenberg

Ramsgate. – ’n Modieuse en wel ter tale kelner het gister vlugtig hier in die landdroshof verskyn rakende die moord op die bekroonde Franse sjef en restaurantbaas vir wie hy vroeër gewerk het.

Mnr. Thukela Qunta (21) is Woensdagmiddag laat by sy ouerhuis in Mthatha gearresteer rakende die moord op me. Yvonne Cosson (69) van die restaurant La Petite Normandie.

Cosson se naakte en verbrande lyk is Maandagoggend vroeg buite haar huis en restaurant ontdek nadat die polisie ’n wenk ontvang het. Die lyk was met plastiek en grond bedek.

Die moord op Cosson, wie se restaurant in 2005 as die beste landelike restaurant in die land aangewys is, het dié kusdorp en gewilde vakansiebestemming geruk.

Sy is vermoedelik Sondagnag in haar bed oorval en teen die trappe afgesleep na die sitkamer toe. Daar is sy vermoedelik in ’n woeste geveg wreed vermoor.

Qunta het tot verlede week vir Cosson as kelner gewerk toe hy vermoedelik weens ’n loongeskil ontslaan is. Volgens supt. Zandra Hechter, polisiewoordvoerder, was die ondersoekspan met sy familie in Mthatha in verbinding nadat die moord ontdek is en het hulle die polisie gebel toe die 21-jarige man Woensdag daar opgedaag het. Hy is in die teenwoordigheid van sy prokureur, mnr. Thembikile Malusi, gearresteer. Cosson se vermiste goue Volkswagen Chico is in Mthatha se Tyumba-township teruggevind. Qunta is gister geboei met ’n afwaartse blik van die selle na die hofsaal begelei. In vlot Engels het hy knap aan landdros C. Annamalai verduidelik sy prokureur het gereël dat ’n plaaslike korrespondent sy saak kom behartig.

Annamalai het gelas dat Qunta in aanhouding bly totdat die hof op 24 Januarie ’n borgtogaansoek sal aanhoor.

Mnr. W. Funeka het gesê die staat gaan borgtog teenstaan.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2250416,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.