Monday, 21 January 2008

Jong vrou steek wag dood wat haar oorval, wil verkrag

Me. Chantelle Olivier (20, regs), vertel hoe sy 'n gewapende man wat haar probeer verkrag het, doodgesteek het. Links is haar vriendin, me. Nicky van Rensburg (20), wat haar ná die voorval gaan ondersteun het. Foto: LEON BOTHA

Jan 20 2008 08:55:19:900PM - (SA)

Virginia Keppler

’n Vrou van Lindopark in die ooste van Pretoria het gistermiddag ’n man met ’n mes doodgesteek toe hy haar klere met ’n mes afgesny en haar byna verkrag het.

Me. Chantelle Olivier (20) van Stormvoëlstraat is gister omstreeks 14:45 by haar woonstel deur ’n 21-jarige man met ’n biefstukmes oorval en byna verkrag.

Die man is later op die toneel geïdentifiseer as ’n veiligheidswag by ’n motorhandelaar langs Olivier se woonstel.

Olivier het haar vullisblik buite leeggemaak toe ’n man haar op haar naam noem en van agter gryp.

“Ek was verbaas dat hy my naam ken, want ek ken hom glad nie.”

Volgens Olivier het die man haar by die huis ingedwing en na haar bed gesleep.

“Toe sê hy ‘Chantelle, I love you very much’ en sê ek moet gaan lê.”

Sy het geweier.

Hy het haar op haar rug op die bed gedwing en op haar gaan sit.

“Hy het my hemp met die mes stukkend gesny en die knoop van my broek afgesny.”

Sy het hom van haar afgestamp.

Daarna het sy kombuis toe gehardloop en ’n mes gegryp.

“Hy het my in die kombuis vasgekeer en my gesig teen die muur gedruk.

“Ek weet nie hoe nie, maar ek het dit reggekry om om te draai en hom diep te steek.”

Die man het haar weer gegryp en na haar kamer getrek, maar daar het hy op die bed neergesak en aan sy wonde begin beswyk.

Sy het hom afgegooi en hy is op die vloer dood.

Olivier het toe, met die bebloede mes nog in haar hand, haar ma, Lettie, van haar selfoon gebel en gesê: “Ma, ek het iemand gesteek.”

Daarna het sy by die agterdeur gaan sit en vir haar ma en die polisie gewag.

“Ek kan nie glo ek het iemand doodgesteek nie, maar onder dieselfde omstandighede sou ek dit weer doen,” het Olivier gesê.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2255414,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.