Tuesday, 29 January 2008

Kleuterhoof in hart geskiet

Mev. Rinda Abraham (55) is in haar huis doodgeskiet. Slegs 'n selfoon is gesteel.

Jan 28 2008 11:02:24:440PM - (SA)

Virginia Keppler

’n Kleuterskoolhoof van Pretoria is Saterdagnag met ’n enkele skoot in die hart doodgeskiet nadat drie gewapende rowers haar en haar gesin tuis oorval het.

Die rowers het met net ’n selfoon uit die huis in Aquilastraat, Waterkloofrif, gevlug.

Mev. Rinda Abraham (55) se man, Eric (60), en twee van hul seuns, Reggie (35) en Christo (34), het vergeefs probeer om haar aan die lewe te hou terwyl hulle op ’n ambulans gewag het.

Mev. Abraham, hoof van die Kleutermaatjies-kleuterskool in Centurion, se dood volg nadat mnr. Fred Picton-Turbervill (46) van Ariesstraat, Waterkloofrif, vroeër vandeesmaand voor sy vrou en kinders in die kop geskiet is. Hy is enkele ure ná die aanval dood.

“Ek gaan my poppietjie nooit weer terug kry nie,” het mnr. Abraham gister huilend gesê.

Christo en sy vriend, mnr. Theunis Claassen (34), het in die televisiekamer gesit en gesels toe die rowers toegeslaan het.

“Die volgende oomblik het iemand sy kop by die skuifdeur ingesteek en gesê ons moet stil en kalm bly.

“Nog twee het hom gevolg. Twee van hulle was gewapen,” het Christo gesê.

Christo se hond het op een van die rowers afgestorm, waarop ’n ander rower ’n skoot afgevuur het wat die hond rakelings op die bolip getref het.

“Nog ’n skoot het afgegaan en het die televisie en DVD-speler getref.

“Een van die rowers het voor my en Theunis gestaan en sy vuurwapen op ons gerig terwyl die ander een by die DVD-speler gestaan het en geprobeer het om dit uit te kry,” het Christo vertel.

Sy ouers het intussen van die skote wakker geword. Mev. Abraham het in die gang afgehardloop terwyl sy na Christo geroep het.

Reggie (35), wat ook al in die bed was, het ook by sy kamerdeur uitgekom.

“Ek het in my kamer teruggegaan om my vuurwapen te kry.

“Skielik was daar ’n rower in die gang wat agter my ma weggekruip het. Toe gryp hy haar aan haar nek en skiet haar in die hart,” het Reggie gesê. Christo het ook gesien hoe sy ma geskiet word. “Haar laaste woorde was ‘Christo, ek is geskiet’ en toe sak sy inmekaar,” het hy vertel. Die rowers het daarna met Christo se selfoon gevlug.

“Ek weet die lewe moet aangaan, maar vir my het dit tot stilstand gekom. Die liewe Here weet alleen hoekom hulle haar vir ’n selfoon doodgeskiet het,” het mnr. Abraham gesê.

Die Abrahams se jongste seun, Eric jr. (30), het gesê sy ma se dood is die hartseerste ding wat ooit met hom gebeur het.

“Ek mis my ma,” het hy gesê en toe in sy hande gesnik.

Kapt. Prince Mokhabela, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie ondersoek die voorval.

Mev. Abraham word Vrydag om 12:00 uit die Lede in Christus-kerk in Centurion begrawe.

Hilda Fourie berig die drie verdagtes in die moord op Picton-Turbervill het gister vlugtig in die hof verskyn en die saak is uitgestel tot 15 Februarie.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2260330,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.