Monday, 7 January 2008

"Lede van polisie" skiet man vier keer

Mnr. Dieter Hinz (42) wys hoe vyf vermeende rowers wat hulle as polisiemanne voorgedoen het, hom vasgeboei het nadat hy wreed aangerand en vier keer geskiet is. Foto: Bongiwe Gumede

Jan 06 2008 11:34:11:330PM - (SA)

Amanda Roestoff

'n Man van die Wes-Rand het die naweek ’n aanval deur ’n groep “polisiemanne” oorleef toe hy met flitsligte toegetakel, vier keer geskiet en toe vasgebind is.

“Ek voel nie veilig om huis toe te gaan nie. ’n Mens kan orals aangeval word, maar dít (misdaad) ruk nou handuit,” het mnr. Dieter Hinz (42), ’n motorwerktuigkundige, gister oor Vrydagaand se aanval by sy huurhuis op ’n roosplaas in die Kromdraai-omgewing gesê.

Dié was die tweede aanval op hom binne ’n maand. ’n Man wou hom glo drie weke gelede aanval nadat dié daarin geslaag het om die elektriese heining van die perseel te knip. Hinz kon die aanvaller verjaag.

Niks kon egter die aanval Vrydagaand stuit toe vyf “polisiemanne” hom wreed met flitsligte getakel en vuurwapens en geld geëis het nie.

Toe Hinz, ’n Duitssprekende wat in Namibië gebore is en meer as 20 jaar in Suid-Afrika woon, nie gehoor gegee het nie, is hy summier geskiet.

Hy is in ’n bestendige toestand in die Leratong-hospitaal buite Roodepoort, waar hy steeds wag dat die koeëls in ’n operasie verwyder word.

Volgens Hinz het die toeter van ’n voertuig wat omstreeks 20:00 by die perseel se hek gestaan het, aanhoudend geblaas.

Toe hy gaan ondersoek instel, het die bestuurder van die dubbelkajuit-bakkie beweer hy is van die voertuigdiefstaleenheid.

’n “Verdagte” wat glo in besit van ’n gesteelde motorenjin gevind is, het die “polisie” glo na Hinz se huis gelei.

Dié “verdagte” is selfs voor Hinz geboei en aangerand, voordat die motorhuis deurgesoek is.

“Hulle (die verdagtes) het my van agter met die flitsligte toegetakel net toe ek afbuk om die motorhuis te sluit. Ek is toe die huis ingesleep waar ek geskop en geslaan is,” het Hinz vertel.

Toe hy nie geld en vuurwapens kon gee nie, het die skote begin klap. Hy is in die regtervoet, toe twee keer in die linkerbors en toe in die linker-bobeen geskiet. Hy het ook verskeie kneus- en snywonde aan sy regteroog, onder sy ken en agter sy oor opgedoen. Sy hande en voete is met wit plastiekkabels vasgebind voordat die rowers met CD’s, klere en ’n bos sleutels vort is.

Hinz kon ondanks die pyn homself loswikkel en mnr. Joe Dunbar, die eienaar van die huis, met sy selfoon bel.

Hinz is by die Krugersdorpse private hospitaal behandel en gestabiliseer. Hy sou R80 000 moes opdok om hier geopereer te word, maar het nie dié geld gehad nie.

Hy is ook nie lid van ’n mediese fonds nie. Hy is na die Leratong-hospitaal oorgeplaas.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2247281,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.